CrimeLocal newsNews

Drie verskyn Dinsdag na mesdood

Hulle verskyn Dinsdag 13 Augustus weer in Kriel Landdroshof

Me. Santie Radley het op 1 Mei tot stilstand gekom.

Mense sien die dag wat ook bekend staan as Werkersdag as ʼn vakansiedag, vir me. Radley is dit ʼn dag waarop ʼn gedeelte van haar hart uitgeruk is.

Dit was in die vroeë oggendure van daardie dag dat die 32-jarige Johan Fourie se bloed sy ma se skoot, haar hande en haar gesig gevlek het toe sy haar seun se lewelose liggaam vasgehou en hulpeloos gebid het dat hy moet lewe.

Fourie het daardie aand 23:30 by die geriefswinkel by ’n plaaslike garage gestop om iets te koop.

Videomateriaal wys ’n onderonsie tussen Fourie en nog ’n bestuurder wat voor hom gestop het.

Die materiaal wys ook hoe Fourie en die ander bestuurder handskud.

Dan stop ’n wit Volkswagen Polo op die toneel en dinge neem ’n drastiese wending.

Mnr. David Mokoena wat saam met Fourie gewerk het, het gesien hoe die mans in die Polo stop, uitklim en met Fourie begin baklei.

Hy het probeer om sy vriend te beskerm deur oor hom te buk. Mokoena is sewe keer raak gesteek tydens die voorval.

Fourie is tydens die bakleiery noodlottig gesteek.

Me. Radley en haar man, Chris, was aan die slaap toe hulle die oproep kry dat hy seergekry het.

Hulle het na die toneel gehaas.

’n Flou liggie wat op Fourie geskyn het is vir ewig in me. Radley se gedagtes ingeëts.

Sy het geweet haar seun is weg, maar het hom vasgehou, oor en oor gesoen en heeltyd met hom gepraat terwyl sy aanhou bid het.

“My kop het geweet hy is weg, maar ek het aangehou bid. Ek het God gesmeek om hom vir my terug te gee. Ek het Johan gesmeek om sy oë oop te maak. My seun se bloed het uit sy wonde gesypel en my gevlek.”

Me. Radley moes onlangs na Fourie se huis gaan om sy kaste uit te pak sodat die huis ontruim kan word.

Sy het gesê dit was vir haar erger as sy begrafnis.

“Dit is die seerste seer wat ’n ma kan ervaar. Ek voel verkul deur die lewe.
Ek het my hele menswees en hart gegee vir daai lieflike kind wat in my baarmoeder gevorm is. In ’n bestek van ’n paar minute is hy uit my lewe geruk…”

Die drie verdagtes is kort na die moord gearresteer.

Hulle verskyn Dinsdag 13 Augustus weer in Kriel Landdroshof.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button