Local newsNews

Volledige storie: Drie in hof na padwoede aanval

Potgieter het gesê dat die mans op ’n stadium glo na sy skoonsuster in die bakkie toe gestap het en die vuurwapen wat hulle by sy broer afgeneem het, op haar gerig en die sneller getrek het

’n Heerlike aandjie uit het vir twee plaaslike inwoners in ’n nagmerrie ontaard toe hulle na bewering deur ongeduldige padgebruikers aangerand is.

Mnr. Willem (57) en me. Santie Potgieter (57) was Saterdag 20 Julie omstreeks 21:15 op pad terug huis toe in Tasbetpark nadat hulle gaan uiteet het by ’n plaaslike restaurant.

Mnr. Lourens Potgieter, wat namens die familie as spreekbuis optree het gesê sy skoonsuster is te getraumatiseerd na die voorval en kan nie praat oor wat gebeur het nie.

Sy broer is tans in die intensiewe sorgeenheid in Netcare Milpark Hospitaal.

Hy is nog onder sedasie.

Mnr. Willem Potgieter is in Netcare Milpark Hospitaal nadat hy tydens ’n padwoede voorval aangerand is

Potgieter het gesê vier mans in ’n bakkie het blykbaar oor ’n rooi verkeerslig gery en sy broer het toeter vir die bestuurder gedruk.

Volgens Potgieter het die bestuurder van die bakkie glo omgedraai, sy broer en skoonsuster gejaag en hul bakkie verskeie kere van agter af gestamp.

“Willem het uitgeklim en ’n skoot in die lug in afgevuur. Die mans het hom oorrompel en genadeloos aanhou slaan. Hulle het net nie opgehou nie. Die houe het vir meer as 45 minute op hom gereën.”

Potgieter het gesê dat die mans op ’n stadium glo na sy skoonsuster in die bakkie toe gestap het en die vuurwapen wat hulle by sy broer afgeneem het, op haar gerig en die sneller getrek het.

“Goddank, die vuurwapen het nie afgegaan nie. Santie het hulle gesmeek om op te hou, maar hulle het net aangegaan en aangegaan. Sy is ook aangerand. “Nadat hulle Willem klaar aangerand het, het een van hulle ’n vriend gebel en gesê hy moet ’n ambulans stuur en hul bakkie kom sleep.”

Die Potgieter-egpaar is na Life Cosmos Hospitaal geneem waar mnr. Potgieter gestabiliseer is. Hulle is beide na Milpark Hospitaal toe oorgeplaas.

Drie mans het Dinsdag 23 Julie in Witbank Landdroshof verskyn op ’n klag van poging tot moord. Hulle is op R10 000 elk borg vrygelaat. Die saak is tot 1 Oktober uitgestel.

“Padwoede en aggressiewe gedrag op ons paaie het reeds so alledaags geword dat dit ‘n buitengewone gebeurtenis kos om ons opnuut te laat besef wat ’n nadraai dit kan hê. My broer en skoonsuster se lewe het in daardie 45-minute verander. Is ek kwaad? Nee! Dis te ligtelik gestel. Hierdie sadistiese barbare het ’n man en vrou aangerand sonder om twee keer te dink. Ek het hulle in die hof gesien en wou hulle met my selfoon gooi. Ek is bitter hieroor…”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button