Local newsNews

Hope piesangs bring verligting

Dit het ’n Gautengse sakeman en ondersteuner van Solidariteit Helpende Hand vinnig besef toe hy onlangs saam met sy vrou vir hul huweliksherdenking in Mpumalanga gaan vakansie hou het

As dit piesangs reën, moet jy skep en begin bak.

Dit het ’n Gautengse sakeman en ondersteuner van Solidariteit Helpende Hand vinnig besef toe hy onlangs saam met sy vrou vir hul huweliksherdenking in Mpumalanga gaan vakansie hou het.

“Ek en my vrou, Sussa, het in Maart in Marlothpark buite Komatipoort gaan vakansie hou toe ons een dag ’n krat piesangs by ’n winkel gesien het vir R50. Ek het vir die vrou in die winkel gevra of daar nog piesangs is, want ek soek ’n bakkievrag vol om vir Helpende Hand te gee om behoeftige kinders te voed,” het mnr. Callie Geldenhuis, hoofuitvoerende beampte van National Road Carriers gesê.

Callie het in 1993 sy onderneming in Bronkhorstspruit op die been gebring wat daarin spesialiseer om veral myntoerusting oor die land se grense te vervoer.

Hy verduidelik hy het bewus geraak van Helpende Hand se voedingskemas toe sy vervoermaatskappy verlede jaar gehelp het om 14 ton aartappels gratis van ’n boer se plaas na Helpende Hand se gemeenskapsentrum in Derdepoort in Pretoria te vervoer.

“Ons het daarna ’n boodskap op WhatsApp ontvang van een van die mense wat van die aartappels gekry het. Dit was hartroerend. Ek was dankbaar dit werk, want ’n mens sien dit help. Ons het gesien wat Helpende Hand doen en dat die kosskenkings nie gemors word nie. Ons het daarom besluit om te help waar ons kan.”

Die vrou by die winkel het Callie en Sussa toe na haar verskaffers verwys en die egpaar kon sodoende met Henk Grobler, pakhuisbestuurder en gehaltebeheerder van Lebombo Piesangs in Komatipoort, in verbinding tree en het aan hom hul behoefte verduidelik.

“Henk was baie tegemoetkomend toe hy hoor vir watter doel ons die piesangs soek en was van die staanspoor af vriendelik en het gesê hy sal weekliks van die oorskot piesangs vir ons gratis gee as daar is – ons moet dit net self kom haal,” het Callie gesê.

Callie het vir Johan Scott, sy onderneming se operasionele bestuurder wat self ’n Helpende Hand-taklid is, in verbinding met Henk gesit en opdrag gegee om weekliks te reël om piesangs te gaan oplaai as daar ’n oormaat is.

“Weens die aard van ons besigheid het ons vragmotors wat weekliks onder meer van Mosambiek af met leë vraghouers na Bronkhorstspruit terugkeer. Johan koördineer met ons drywers en met Henk, om Vrydae of Donderdae in Komatipoort die oorskot piesangs op te laai, waarna die vrag dan in onderskeidelik eMalahleni en Pretoria afgelaai word.”

Die piesangskenkings het in Maart begin by 10 bokse en trek nou al by 30 bokse weekliks.

Die 30 bokse is nagenoeg 4 320 piesangs wat 540 kg weeg.

Meer as 100 behoeftige gesinne, asook kinders en bejaardes in tehuise kry weekliks van dié natuurlike bederfies.

Me. Annemarie van Heerden, Helpende Hand se streeksorganiseerder van Mpumalanga en die noorde van KwaZulu-Natal, sien weekliks die dankbare gesigte van hulpbehoewende mense wat by dié ruim skenking baat.

“Die helfte van die vrag piesangs word by my afgelaai en die ander by Helpende Hand se gemeenskapsentrum in Pretoria. Ek neem die piesangs na verskeie laerskole waar ons ons Kosblikkie-voedingskema bedryf, asook ouetehuise en tehuise vir gestremde mense. Dit is ongelooflik om die dankbaarheid op die mense se gesigte te sien en ook om te sien watter planne hulle beraam om die leefbaarheid van die piesangs te rek deur piesangbrode en kolwyntjies te maak. Die opgewondenheid op die kinders se gesigte tref ’n mens, veral as hulle weet daar is genoeg piesangs om vir hulle pappas en mammas ook te vat. Daar is selfs ’n bejaarde tannie wat sê dit is vir haar so waardevol soos ’n verjaardaggeskenk,” het Annemarie gesê.

Back to top button