Gemeenskap verhoed dat huis afbrand

ER24 was reeds op die toneel besig om die vrou te stabiliseer en te behandel vir rook-inaseming

Soos die gemeenskap ’n droë en koue winter deurmaak, word meer huis- en veldbrande aangemeld.

Op 4 Julie het ’n huisbrand ontstaan in die Tasbetpark woongebied.

“Ons is so 21:00 in kennis gestel van die voorval en binne 10 minute was ons op die toneel,” het mnr. Charles Steyn van die SACCW Brandweer-afdeling gesê.

ER24 was reeds op die toneel besig om die vrou te stabiliseer en te behandel vir rook-inaseming.

Volgens Steyn, “was ’n groot deel van die brand reeds geblus en onder beheer gebring deur lede van die gemeenskap. Hierdie lede het alles op die spel geplaas en dit was ook hulle wat die vrou uit die huis verwyder het.”

Steyn en sy span het toegang tot die huis verkry om alles oop te maak vir ventilasie omdat die rook baie dig in die huis was.

“Die brandskade was verhoed tot by die slaapkamer en ons het nog water gebruik in die areas vir die materiaal wat nog nie geblus was nie. Die res van die woning het wel baie rookskade. Ons het alles wat nog gerook het en moontlik kan, uitgedra om sekondêre brand te verhoed,” het Steyn verder vertel.

So deur al die chaos het Steyn en sy span gehoor dat die vrou se hondjie steeds vasgekeer is in die verbrande huis, “meeste van die rook was op daardie stadium uit toe Johan de Jongh die verwarde hondjie in die hoofslaapkamer se badkamer gevind het.”

Om 22:00 was die toneel opgeklaar en nog gemonitor tot dit heeltemal veilig was.

“Ons dank aan almal, alles in hulle plek en in tyd – brandweer, gemeenskap, reaksielede van SACCW en die FD EMS vrywilligers. Hierdie is die enigste manier wat ons maksimum skade gaan beperk en verlies laag hou. Mense moet asseblief ook net in ag neem die risiko’s verbonde aan so brand. Die hoë hitte, rook wat jou verblind en baie min tot geen suurstof is uiters gevaarlik en kan lei tot noodlottige gevalle,” het hy ten slotte gesê.

Exit mobile version