Local newsNews

Angel-Lee is huistoe

Ons kinders is net aan ons geleen

Donderdagoggend gaan mense heel moontlik opkyk en 100 pienk en wit ballonne in die lug sien.

Vir Jaen-Mari en Tommie Blignaut is hierdie ’n laaste groet aan hul negejarige dogtertjie, Angel Lee wat op 1 Julie dood is aan beserings nadat sy en haar boetie en sussie in ’n motorongeluk betrokke was saam met hul oom en tannie.

Die ongeluk het omstreeks 17:30 op die N14 in Ventersdorp se rigting plaasgevind.

Twee mense is op die toneel dood, waarvan een Angel Lee se oom, mnr. Koos Meyer was.

Die Blignauts se 13-jarige dogter Caylin het probeer om almal uit die wrak te sleep. Sy kon egter net haar boetie, Jessie James (5) uitkry.

’n Paramedikus van ER24, mnr. Adrian van der Merwe, wat eerste op toneel was, het dadelik hulp ingeroep.

“Dit was ’n absolute slagting. Ek werk al 19 jaar op die pad en dit is een van die ongelukke wat my nog die meeste geraak het,” het Van der Merwe gesê.

Angel Lee is per helikopter na Busmed Hospitaal gevlieg.

Cailyn, Jessie James en me. Rina Marais is na Linmed Hospitaal vervoer.

Cailyn se kakebeen is op twee plekke gebreek, haar sleutelbeen en pelvis is ook gebreek en haar een long het platgeval. Jessie James het harsingskudding opgedoen, sagte weefsel beserings en sy longetjie het ook platgeval en me. Marais het ’n operasie aan haar regter oogbank ondergaan.

Almal is reeds uit die hospitaal ontslaan.

Me. Blignaut het gesê die kinders was by hul ouma in Carletonville en is Saterdag 29 Junie saam met hul oom en tannie vir die dag na Pretoria, waar hulle deur hul ouers met ’n melkskommel by die vlooimark bederf is.

“Toe ons later by die huis kom, kon ek net nie tot ruste kom nie. My foon se lugtyd was klaar en ek het vir Tommie gevra dat ek net sy suster wil bel om te hoor of hulle veilig terug in Carletonville is. Ek wou net omdraai om sy foon in die kamer te gaan haal, toe ek sien my foon lui. Dit was ’n vreemde nommer en die stem aan die ander kant het gevra of my drie kinders saam met hul oom en tannie in die kar was. Die persoon het gesê daar was ’n ongeluk en dit lyk nie goed nie.”

Die egpaar het dadelik na Busamed Hospitaal in Modderfontein gejaag.

Maandag, 1 Julie het die dokters die Blignauts laat weet dit gaan nie goed met Angel-Lee nie.

“Angel-Lee se hoofslagaar wat die bloed na haar brein toe voer het gebars en haar breintjie was baie geswel. Die dokters het min hoop gehad. Ons het net twee minute saam met ons dogtertjie gehad…..”

Terwyl die trane oor mnr. Blignaut se wange loop, het hy vertel hoeveel woorde nodig is voor jy finaal groet.

“Ek het saggies in haar oortjie gefluister dat ek haar altyd sal liefhê. Ek het ook vir haar gesê dat sy enige tyd haar koppie weer teen my skouer kan kom druk as sy verlang. Terwyl Jaen-Mari oor haar gebuk en vir haar gefluister het hoe verskriklik baie sy haar liefhet, het ’n suster nog onverpoos adrenalien in die klein lyfie gepomp.’n Vreemde kalmte het oor my gekom. Ek het besef Hy is in beheer. Ek het vir God gesê dis reg Hy kan haar maar kom haal.”

Die hartmonitor het die harde werklikheid gebreek.

“God het ons gebede beantwoord. Ons het gevra dat Hy haar heel maak. In die hemel is sy heel,” het me. Blignaut gesê.

“Angel-Lee was nie vir die aarde bedoel nie. Sy was ’n engel wat God gestuur het om ons van Jesus-liefde te kom leer,” het mnr. Blignaut gesê.

Die egpaar se trane loop weer vrylik wanneer hulle oor hul kinders praat, “Koester elke oomblik saam met jou kind.

Moenie raas oor vuil voetjies op die skoongewaste vloer nie.

Maak van elke oomblik ’n onthou-oomblik.

Ons kinders is net aan ons geleen.

Angel-Lee was ’n leerder by Laerskool Klipfontein.

*Mnr. Meyer was ook voorheen ’n inwoner van eMalahleni.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button