HGH klop Standerton ’n tweede keer

Gedurende die liga het HGH met Kanonkop klaargespeel met ʼn telling van 45-10

Na ʼn baie suksesvolle veldtog om hulle liga te wen het die magtige maroen tweede span rugbyseuns hulle staal gewys by die Mpumalanga finaal vir mediumskole.

Die seuns het van die begin van die liga, wedstryd na wedstryd hulle beste spel gelewer en het as onoorwonne tweede span in die semi-finaal 45-0 gewen teen Lowveld High School op Saterdag 1 Junie.

Gedurende die liga het HGH met Kanonkop klaargespeel met ʼn telling van 45-10.

Daarna was dit Volksrust met 29-19, Hoogenhout met 36-0, Standerton met 22-19 en Oosterland met 14-7.

Die seuns het nie vir een oomblik teruggesit op hulle louere nie en het uiteindelik in die finaal weer te staan gekom teen Hoërskool Standerton.

Na ʼn moordende wedstryd op Penryn College se veld op Saterdag 8 Junie het Hoërskool Generaal Hertzog geseëvier met ʼn telling van 7-5.

Meneer Charl Fouché is die trotse afrigter van die tweede span wat by Hertzog bekend staan as die Jaguars.

Sy filosofie vir dié span was, “Wees ʼn beter man van die veld af, dan is jy ʼn beter man op die veld.” Wat ook belangrik was vir hierdie manne, was om karakter te bou in plaas daarvan om net te fokus op wen.

HGH is baie trots op alle spanne wat in uitspele gespeel het, nie op hulle uitmuntende tegniese spel nie, maar op Hoërskool Generaal Hertzog se sportmangees en goeie gedrag.

HGH is ʼn skool waar waardes geld in elke aspek van elke leerder se lewe.

Integriteit, respek, uitnemendheid, trots, liefde en innoverende waagmoed is boustene in elke speler se lewe en daarom lewer Hertzog jaar na jaar suksesvolle volwassenes op.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version