CrimeNews

Taalfees se geliefde ‘snoepie-tannie’ oorlede

Die ongeluk het naby die ou-afrit na Olifants River Lodge plaasgevind

“Dis met hartseer dat ons moes afskeid neem van Michelle, ons snoepie-tannie, ons afrol-tannie, kollega en vriendin. Jou plekkie is leeg, ons gaan jou baie mis,” het die hartroerende boodskappe van Laerskool Taalfees se personeel op sosiale media versprei.

Me. Michelle Fourie, wat as ’n administratiewe personeellid by Laerskool Taalfees werksaam was is Saterdagaand, 3 April dood in ’n motorongeluk op die ou-Middelburgpad (R555).

Die ongeluk het naby die ou-afrit na Olifants River Lodge plaasgevind.

Michelle se man, Furrance, was ook in die voertuig toe die ongeluk gebeur het. Getuies beweer dat hul tydens die voorval langs die pad was en dat hulle net ’n harde slag gehoor het, maar dat daar geen ander voertuie of mense betrokke was nie.

Dit is nog nie presies duidelik wat aanleiding tot die gebeure gehad het nie.

Michelle is op die toneel dood verklaar en haar man is na Midmed Hospitaal in Middelburg geneem waar hy vir twee dae lank in die intensiewe-sorgeenheid behandel is.

Hy was teen Woensdag, 17 April steeds in die hospitaal.

Hulde is op sosiale media aan Michelle gebring deur talle skole, vriende en familie.

Geen begrafnisreëlings was met ter perse gaan nog bekend nie.

“Ons kan ongelukkig nog reëlings gee nie, aangesien ons wag dat my broer uit die hospitaal ontslaan word,” het mnr. Wesley Fourie gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button