Welkom dokter, en lekker verjaar Ons Spreekkamer!

Die spreekkamer bied primêre mediese sorg (konsultasie) by ’n dokter en dit sluit medikasie ook in

Ons Spreekkamer vier ’n volle twee jaar van sukses, en wat ’n beter manier om te vier as met ’n splinternuwe koördinerende dokter aan boord.

Op 1 April 2017 het Ons Spreekkamer sonder ’n enkele fonds afgeskop en twee jaar later help hulle steeds met goeie mediese sorg.

Hierdie spreekkamer is enig in sy soort in Suid-Afrika en Helpende Hand wil almal bedank wat bygedra het tot die sukses.

Annemarie van Heerden, streeksorganiseerder van Mpumalanga vir Helpende Hand het gesê: “Ons wil vir dr. Desiree Booysen bedank wat vir die afgelope twee jaar hier betrokke was. Vir alles wil ons jou bedank, en dankie vir die pad wat ons saam kon stap.”

Dit volg na sy oorgegee het aan dr. Christiaan Spoelstra op Maandag 1 April. Dr. Spoelstra is nie die enigste dokter wat ’n helpende hand gaan bysit nie, daar is ander dokters wat gaan help met konsultasies, ’n oogarts, tandarts, lense en rame, ook ’n fisioterapeut, moontlike oudioloog en ook patoloë wat alles uit die goedheid van hul hart doen.

Die spreekkamer bied primêre mediese sorg (konsultasie) by ’n dokter en dit sluit medikasie ook in.

Natuurlik is daar ’n verwysingsprotokol om deur te gaan voor jy ’n dokter hier kan sien, en hulle werk hand aan hand met hul vennote wat kerke en skole insluit.

Ons Spreekkamer is by die eMalahleni Privaat Hospitaal en Annemarie het haar dankbaarheid uitgespreek vir almal wat net daar is om te help en nie huiwer om hand by te sit nie.

Mari Needham, die sekretaresse kan ook gekontak word by 076 148 3468.

Annemarie het ten slotte gesê dat Bloemfontein volgende ’n Ons Spreekkamer gaan open en dan moontlik in Nelspruit.

Hulle is dankbaar vir die geleentheid en dat hulle reeds soveel mense kan help.

Exit mobile version