Dora soek net genoeg geld vir ’n ‘cheap’ pakkie ‘cigarettes’

As sy haar kop draai, lyk haar blou oë amper deursigtig.

Met fletsblou oë kyk Dora Theunissen diep in jou siel in.

As sy haar kop draai, lyk haar blou oë amper deursigtig.

“Ek is nie meer op dwelms nie. Ek ‘survive’ nou.”

Haar lang naels vreet in haar handpalms in en met ’n smeekstem vertel sy hoe haar lewe verander het na die ongeluk op 30 Januarie toe sy deur ’n minibus op die hoek van die OR Tambo- en Amsterdamstraat-kruising raakgery is.

Ooggetuies het vertel dat die bestuurder van ’n Toyota Quantum minibus ’n motor aan die kant verbygesteek het wat gestop het omdat die verkeerslig rooi was. Die minibus het uitgeswaai vir Dora wat in die pad gestaan het en ’n blou Kia getref. In die warboel is Dora ook getref.

“Ek is bang vir karre. Maar ek kan niks anders doen as om te staan en bedel vir geld nie. Niemand wil my werk gee nie, want my verdomde been is nog steeds in gips.”

Dora het die gips op haar regterbeen self losgesny want sy sê dit het haar gedruk.

Handig balanseer sy op die krukke met haar hande bakhand in die hoop iemand gaan stop en ’n paar sent in haar hand gooi.

“Ons huur is agterstallig en ons gaan uitgeskop word. As ek net genoeg geld het vir my man vir ’n ‘cheap’ pakkie ‘cigarettes’ en die huur, gaan ons ok wees.”

Dora se stem het ’n paar oktawe gestyg toe sy opgewonde vertel dat sy haar seun, Kayden, nou meer sien.

Kayden bly by sy ouma, me. Charlotte van der Sandt, maar omdat Dora meer by die huis is omdat sy nog steeds gou moeg word, kuier hy meer gereeld by haar.

“Hy is mal oor 2-Minute Noodles. As ek die huur kan betaal, vir my man sy ‘cheap’ pakkie ‘cigarettes’ en vir Kayden 2-Minute Noodles kan koop, sal ek die gelukkigste vrou in die wêreld wees.”

Dora gaan weer Vrydag Witbank Hospitaal toe vir ’n opvolg-ondersoek op haar gebreekte been.

A.o Susan Holtzhausen het gesê dat ’n klag van strafbare manslag ondersoek word nadat mnr. Manie Venter in die ongeluk dood is.

Mnr. Venter en sy vrou, Martie was in die blou Kia. Oom Manie is ’n dag na die ongeluk oorlede. Tannie Martie sterk nog steeds aan.

A.o Holtzhausen het gesê hulle is op soek na nog ooggetuies. As jy die ongeluk sien gebeur het, skakel a.o Holtzhausen by 013 655 5102.

LEERS MEER: Saak van strafbare manslag word ondersoek na ongeluk https://www.citizen.co.za/witbank-news/121084/saak-van-strafbare-manslag-word-ondersoek-na-ongeluk/

LEERS MEER:  Opvolg: Dora steeds in intensiewesorgeenheid https://www.citizen.co.za/witbank-news/120198/opvolg-dora-steeds-intensiewesorgeenheid/

LEES MEER:  OPVOLG: Dit gaan beter met Dora https://www.citizen.co.za/witbank-news/120289/opvolg-dit-gaan-beter-met-dora/

Exit mobile version