CrimeNews

Swanger dogter red pa tydens plaasaanval

Hy is egter verras deur drie gewapende mans, terwyl hy besig was om die hek oop te maak op die plaas, tussen Ogies en Kriel

“Die plaasaanval kon soveel erger uitgedraai het as ek nie die krag van Bo af gekry het om te reageer soos ek het nie,” het die swanger dogter van die 71-jarige boer, wat met ’n mes aangeval is tydens ’n aanval, gesê.

Dit was ’n gewone Sondagoggend op 17 Maart toe mnr. Albert (Smittie) Erasmus net so voor 08:00 gereed was om kerk toe te gaan.

Hy is egter verras deur drie gewapende mans, terwyl hy besig was om die hek oop te maak op die plaas, tussen Ogies en Kriel.

Erasmus se dogter, *Heleen, wat op daardie stadium in die huis saam haar ma en twee kindertjies, het begin onraad vermoed toe sy sien die bakkie is nog in die erf, want haar pa moes al oppad gewees het.

“Op daardie oomblik het ek niks gesien nie en na so 15 minute het ek besluit om die deur oop te maak, want iets was nie pluis nie. Ek het die deur oopgemaak en drie mans om my pa gesien staan.”

Die meswond wat mnr. Smittie Erasmus opgedoen het tydens die plaasaanval op 17 Maart.

“Die gebeure van daardie dag kom nou eers stukkie vir stukkie terug na my pa toe. Volgens hom het hy uit sy bakkie geklim om die hek oop te sluit sodat hy kan ry toe hy oorval is. Ons vermoed die verdagtes het agter ’n ou militêre vragmotor weggekruip. Met eerste instink het my pa probeer vlug toe hy sien dat een van hulle ’n vuurwapen het, maar vinnig het hulle hom ingehaal en begin hardhandig hanteer,” het sy gesê.

Die prentjie wat sy geskets het was dié van drie aanvallers wat in ’n sirkel om haar pa gestaan het,

“al wat ek kon sien was hoe my pa met sy hande probeer keer het, seker om te verhoed dat hulle hom steek of verder leed aandoen. Ek het histeries begin gil en skree vir die aanvallers in die hoop dat ek hulle sal verjaag, maar een van hulle het omgedraai en na die huis begin hardloop.”

Op daardie oomblik het die 30 weke swanger vrou haar seuntjie wat saam haar in die kombuis was gegryp, die kombuisdeur gesluit en in die gang van die huis afgehardloop waar sy die staalhek toegeslaan het.

“Ek kan nie presies onthou wat ek geskree het nie, maar ek weet ek het vir my ma geskree, ‘plaasaanval, drie gewapende mans’. My ma het op daardie oomblik in skok gegaan en ek het die geweer gaan haal en badkamer toe gevlug. Ek het toe vier waarskuwingskote gevuur waarop die mans geskrik het. Hulle het in die bakkie gespring en weggejaag,” het *Heleen vertel.

Na sy die bakkie sien wegjaag het, het sy eers seker gemaak dat daar niemand meer op die perseel is nie voor sy uitgehardloop het om te kyk of haar pa nog lewe.

Erasmus het op daardie oomblik vir haar gesê dat hy ‘allright’ is.

“Ek het dadelik na sein gesoek om die nodige hulp te ontbied, terwyl my ma by my pa gewag het.

Janse Potgieter van Hoëveld Plaaswag, Sektor 3, het op die toneel aangekom saam met Legacy Ambulansdienste, die honde-eenheid van Middelburg, Ogies Polisie en omliggende boere.

“Ek kan nie beskryf hoe ongelooflik die hulp was van ons gemeenskap nie. Daar het ’n boer sy helikopter dadelik ingespan om te help soek na die verdagtes,” het sy bygelas.

Erasmus se bakkie is ongeveer drie kilometer van die huis af gevind, maar sy selfoon en kontant is gevat.

“Ons vermoed dat die drie aanvallers dieselfde mans was wat op 19 Januarie ook by ons wou inbreek maar misluk het,” het *Heleen bygelas.

Erasmus is in die rug gesteek met ’n mes, oor die kop geslaan met ’n onbekende voorwerp asook geskop en geslaan.

Daar is ook in sy bakkie ’n mes gevind wat vermoedelik aan die aanvallers behoort.

“As mens terugsit en dink hoe die gebeure kon uitdraai, is daar net een ding wat ’n mens kan doen en dit is om alle dank aan ons Almagtige God te gee,” het *Heleen ten slotte gesê.

*Nie die dogter se regte naam nie. Haar naam word weerhou om veiligheidsredes.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button