Local newsNews

Die tyd het gekom om ’n brug te bou

Die voorval het nie net ’n gat in die pad gelos nie, maar ook families in rep en roer gelaat

Sedert Maart 2016 is die Secondlaan-brug in Blancheville in alle inwoners van daardie wyk se gedagtes.

Wanneer gaan die brug dan weer herbou word?

Gaan daar weer ’n brug wees?

Wel, goeie nuus het aan die lig gekom die afgelope week.

WITBANK NUUS het op 18 Maart 2016, presies drie jaar gelede berig oor die tragedie wat plaasgevind het toe die brug ineengesak het.

Die voorval het nie net ’n gat in die pad gelos nie, maar ook families in rep en roer gelaat na ’n minibus saam die brug ineengesak het.

Die gebeure het een persoon se lewe geëis en talle ander s’n in gevaar gestel.

WITBANK NUUS het op 19 Maart met die wyk se raadslid, mnr. Roy Cronje en die konstruksiespan vergader.

“Ons is tans besig om die oortollige grond uit te grou. Daar is wel pype wat verstop is wat eers reggemaak moet word voor enige ander herstelwerk kan plaasvind,” het die voorman van die projek gesê.

As dit kom by die tydlyn wanneer die brug weer in volle werking sal wees, is die antwoord “om en by twee tot drie maande.”

Cronje het bygelas dat die inwoners van Blancheville vir ’n geruime tydjie ’n alternatiewe pad moet gebruik aangesien die tydelike paaie afgesper gaan word vir verdere konstruksie-doeleindes.

“Eerder nou as nooit,” het ’n inwoner van die wyk afgesluit.

Back to top button