CrimeNews

Baba gebore na ma geskiet is

Die rowers het op die bewegende bakkie begin skiet

Witbank Speurtak laat geen klip onaangeroer in die soektog na die drie gewapende mans wat ’n man en sy swanger vrou geskiet het nie.

Alle leidrade word opgevolg na die skietery wat Vrydag 8 Februarie op ’n grondpad net duskant die N4 tolhek plaasgevind het.

Mnr. Christo Mulder (38) het vertel dat hy en sy vriendin me. Renske Erasmus (31), Mulder se vier- en sewejarige dogtertjies en Erasmus se negejarige dogtertjie omstreeks 21:20 op pad was om vir vriende in Delmas te gaan kuier.

Hulle bly in Middelburg. Omdat Mulder gereeld dié spesifieke grondpad ry om die Middelburg Toll Plaza te vermy was hy gemaklik daarmee om weer die pad te gebruik.

Toe hy stilhou om die toegangshek oop te maak het drie gewapende mans hom oorrompel.

“Alles speel so stadig weer en weer voor jou af. Die mans het twee keer op my geskiet. Renske het begin skree, die bakkie se deure gesluit oorgeskuif bestuurderskant toe en van skok weggejaag.”

Die rowers het op die bewegende bakkie begin skiet en Erasmus twee keer raakgeskiet, eenkeer in die arm en die tweede keer in die rug.

Erasmus wat al 36 weke swanger was het tot by die tolhek gejaag vanwaar sy self haar pa en vriende gebel het om te kom help.

Intussen het die rowers Mulder laat gaan en het hy tot by die tolhek geloop.

Daar het hy Erasmus tot in die passasierssitplek gehelp, self agter die stuurwiel ingeklim en na Mid-med Hospitaal gejaag.

Dokters het Erasmus dadelik gestabiliseer en terwille van die ongebore baba se veiligheid besluit om nie dadelik te opereer nie.

Saterdagaand was daar opwinding in die kraamsaal toe die 3.6kg Fourie gebore is.

Hy was 50cm lank.

Fourie sal binnekort ’n tweede naam bykry want sy ouers is opsoek na ’n naam wat die woord ‘vegter’ simboliseer.

“Ek is baie trots op Renske. Sy moes somme maak en een lewe teenoor vyf, sy het reg gekies en ons dogters en seun veilig gehou,” het Mulder gesê.

Mulder het gesê dat die koeël in Renske se rug nog vassit en dit deur dokters gemonitor word.

“Ek is so dankbaar dat ons leef. Die rowers het mis geskiet. Hulle het my geslagsorgaan en hoofslagaar en Renske se nier met millimeters gemis. God het ons Vrydagaand beskerm …”

As jy enige inligting het wat kan lei tot die arrestasie van die rowers skakel a/o PD Masango: 072 178 3028 of 083 584 2491.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button