Local newsNews

’n Skatkis vol talente

Naomi kan die klavier, kitaar, dwarsfluit en viool speel

Naomi van Dyk het beslis ’n skatkis vol musikale talente.

Sy het haar liefde vir musiek en alles wat daarmee gepaardgaan ontdek op die jonge ouderdom van drie jaar.

“Ek was in Laerskool Balmoral en ek kan nog onthou hoe ek vir die eerste keer in die Artium Kunstefees gesing het, ek was nege jaar oud,” vertel Naomi met ’n glimlag.

Naomi is een van vele individue met ’n musikale talent in haar familie.

“My oumagrootjie was ’n musiekonderwyseres, my pa speel al vir jare die orrel, my boetie was die baskitaarspeler in die musiekgroep ‘Glaskas’ en my sussie sing vreeslik mooi.”

Naomi kan die klavier, kitaar, dwarsfluit en viool speel.

Die ander instrument wat Naomi gebruik van maak is haar stem.

“Ek kan opera sing,” vertel sy trots. “Mens se stem is immers ’n instrument.”

Naomi kyk op na die bekende operasangeres, Cathrine Jenkins.

Sy meen dat daar ’n stereotipe oor opera sangers is.

“Mense het ’n stereotipe van hoe operasangers moet klink en Cathrine het hierdie uitkyk heeltemal verander.” Naomi meen dat mens eerstens die stem vir opera moet hê en daarna moet mens die tegniek kan bemeester. Sy het geleer opera sing by Lorraine du Toit.
Naomi wil haar liefde vir musiek met ander deel en daarom het sy die musiekskool, ‘Serioso’, wat ’n Italiaanse term vir ‘ernstig’ is, begin. Sy het die musiekskool in 2013 gestig en het tans 16 studente wat sy leer. “Meeste van my studente kan meer as een instrument bespeel.”

Naomi van Dyk

“Naomi het ’n gawe met kinders, dis fantasties om te sien,” vertel Naomi se skoonma, Elsabé Taylor. “Sy ondersteun al haar studente en hulle het ’n baie goeie verhouding. Hulle lag saam en huil saam. Sy stap beslis die ekstra myl vir elke student.”

Naomi het al vele prestasties met haar vasberadenheid, toewyding en natuurlik haar gawe, verwerf.

“Ek het in 2017 aan Talent Africa deelgeneem, ek’t in vier items deelgeneem en het goud in elkeen behaal. Ek was deel van die Top 10 gewees. Ek het ook in 2009 die sangbeker gewen tydens die Artium Kunstefees.”

“Ons is baie trots op Naomi, sy het onlangs haar studies deur UNISA voltooi en het al haar vakke cum laude geslaag. Tot dusver het Naomi self vir al haar studies betaal en met haar eie finansies die musiekskool begin. Dit wil gedoen wees,” vertel Elsabé.

Naomi se volgende doelwit is om haar doktorale graad te voltooi.

“Dit is hoe mens bydrae tot die veld,” vertel Naomi.

Naomi wil graag almal bedank wat deur die jare tot haar sukses en liefde vir musiek bygedrae het.

“Ek wil veral dankie sê vir Ian en Veronica Ferreira wat met liefde hul perseel vir my beskikbaar gestel het sodat ek die musiekskool kan oopmaak.”

Naomi leef elke dag voluit, sy is doelgerig en werk hard om haar talent en kennis in die musiekveld te verbeter.

Back to top button