‘Hoe is ons dogter dood op die N11?’

Volgens die verslag blyk dit dat sy in die pad af gesleep is

Behalwe vir die skok en pyn van hul dogter se vroegtydige dood gedurende die naweek, worstel ’n ouerpaar van eMalahleni met talle onbeantwoorde vrae nadat sy in raaiselagtige omstandighede gesterf het.

Op Sondag 27 Januarie is Maryka Bezuidenhout (31) se liggaam omstreeks 21:38 langs die N11 (Loskopdampad) naby Kranspoort gevind.

Volgens die polisieverslag het sy ernstige hoofbeserings opgedoen en ook wonde aan haar skouers en knieë gehad. Daar was ’n maroen kombers oor haar en op die toneel het ’n wit BMW gestaan.

Volgens die verslag blyk dit dat sy in die pad af gesleep is, alhoewel daar geen bewys hiervan was nie.

“Ek wil net weet hoe my kind dood is. Ek en my vrou wroeg elke dag hiermee, ons kan nie ‘closure’ kry nie,” het ’n desperate mnr. Johan Bezuidenhout, Maryka se pa gesê.

Alhoewel die voorval Sondagaand gebeur het, is die Bezuidenhout-gesin eers Maandagoggend van die voorval ingelig en ook toe eers gehoor dat Maryka oorlede is.

“Vriende van Lydenburg het my ander dogter geskakel en die nuus met ons meegedeel. Ek moes Maandag na werk rondry en my kind soek, want ek het nie ’n idee waar sy was nie. Ek het haar by die Middelburg lykshuis gekry. Dis nie ’n plek waar jy jou kind wil kry nie. Al daai panne en goed om haar, en sy is so verniel,” het Bezuidenhout gesê.

Volgens Bezuidenhout het hy vasgestel dat Maryke Sondag saam met vriende by Loskopdam gekuier het, waarna sy later die dag saam met haar vriend, Awie Geldenhuys daar weg is.

“Awie het gesê dat sy agter in die kar gesit het. Sy het glo uitgespring na ’n argument. Ek het hom Maandag die hele dag probeer kontak, maar hy het nie op my oproepe reageer nie. Gisteraand omstreeks middernag het ek hom in die hande gekry. Ek moes net weet hoe my kind dood is.”

Bezuidenhout het gesê dat Awie en Maryka in ’n verhouding was vir ongeveer drie maande, maar dat hy nie die verhouding goedgekeur het nie.

“Ek het gehoor dat sy tussen 20:00 en 20:15 oorlede is. Hulle almal het glo lekker gekuier en hul vakansieplanne vir September bespreek tydens die dag by Loskopdam,” het Bezuidenhout verder gesê.

’n Nadoodse-ondersoek is Maandag, 28 Januarie gedoen en ’n tweede nadoodse ondersoek Donderdag, 31 Januarie.

Die uitslae hiervan is nog nie bekend nie.

Maryka was een van die staatsgetuies in ’n saak wat volgende week in die Witbank Landdroshof voorkom, waar ’n man tereg staan op aanklag van, onder andere, ontvoering, voorgee as ’n polisiebeampte, bedrog en meer.

Maryka was in die voertuig saam die beskuldigde toe hy verlede jaar gearresteer is, maar het intussen staatsgetuie gedraai.

“My dogter was ’n ‘free spirit’. Vandag lê my kind, verniel in ’n lykshuis…. my mooi, jong kind. Ek het nie woorde nie, my hart is baie seer. Ek weet nie hoe is sy dood nie. Ek gaan haar begrawe, maar ek weet nie hoekom is sy dood nie. Wat moet ek glo?” het Johan afgesluit.

Die saak, wat oorspronklik by Middelburg Polisiestasie geopen is as strafbare manslag, word tans deur die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat (OPOD) ondersoek.

Mnr. Moses Dlamini, OPOD-woordvoerder het Woensdag 29 Januarie gesê:

“Die OPOD-beamptes het die nadoodse ondersoek Maandag bygewoon en die dossier gister ontvang. Ons ondersoek klagtes van polisiebetrokkenheid in dié dood en dit is ’n nuwe saak, so geen uitslae is al bekend nie. Ons is ook nog nie in ’n posisie om kommentaar te lewer op polisie-uitsprake nie, aangesien die aantuigings eers ondersoek moet word.”

Maryka se roudiens sal Maandag 4 Februarie om 11:00 plaasvind vanuit die Evangelies-Gereformeerde Kerk Witbank, op die hoek van Visagie- en Jan Cilliersstraat.

Maryka laat haar pa, Johan, ma. Petro, suster, Winny, broer, Dian en haar dogtertjie Isla (3) agter.

*Kapt. Awie Geldenhuys, saam wie Maryke na bewering in die motor was ten tye van die voorval, is deur WITBANK NUUS genader vir kommentaar, maar het gesê dat hy op ’n latere stadium by monde van die polisie mediawoordvoerder, kommentaar sal gee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version