“Gelukkig is dit alles net aardse goed” – Gesin verloor huis in brand

Die Potgieter-gesin het byna alles verloor nadat ’n brand hul huis op die Leeuwpoort-plotte verwoes het.

Die Potgieter-gesin het byna alles verloor nadat ’n brand hul huis op die Leeuwpoort-plotte verwoes het.

Donderdag, 25 Oktober, was alles behalwe ’n goeie dag vir die Potgieter-gesin.


Lede van die brandweer werk saam op die toneel.

“Ons het almal buite by die swembad gespeel toe my vrou skielik uitroep dat sy rook by ons dak sien uitkom,” het mnr. Christo Potgieter angstig vertel.

Hoe die vuur ontstaan het, is nie duidelik nie.

“Ons weet nie waar of hoe die brand ontstaan het nie, want ons huis gebruik nie krag nie, ons maak gebruik van ’n kragopwekker en hy was nie eers aan nie,” het Potgieter verduidelik.


Van die gesin se besittings kon gered word.

Die brand het om en by 17:00 op die boonste verdieping vir die eerste keer vlam gevat.

“Ons het almal ingespring en begin vlamme blus. Soveel mense het kom help en sommige van ons besittings kon betyds uit die huis gedra word.”

LEES OOK

Huis brand af wyl gesin met vakansie is

Huis herbou na brand

Potgieter het onmiddellik die brandweerd gebel, maar hulle het glo eers baie later op die toneel opgedaag.

“Ek voel dat as die brandweer vinniger hier opgedaag het, sou ons meer van die huis kon red,” het Potgieter gesê.

Die vuur is eers omstreeks 20:30 onder bedwang gebring. Die brand het die hele boonste verdieping, asook sekere vertrekke in die onderste verdieping heeltemal verwoes.


Brandweermanne buite die huis tydens die brand.

Me. Elize Potgieter was baie emosioneel op die toneel en die trane het oor haar wange gerol soos sy gestaan en kyk het hoe hulle lewe wegbrand tussen die vlamme.

“Moenie huil nie my vrou, dis alles gelukkig net aardse goed,” het haar man haar getroos.

“Ek het die huis by my ouers geërf, ek woon al my hele lewe lank in daardie huis. Dit help nie om te kla of moedeloos te raak nie, ons sal maar net weer van voor af moet begin.”


Die binnekant van die huis tydens die brand.

Die gesin se meubels, selfone, klere en verskeie ander items het verbrand.

Die Potgieter’s bedank almal wat gehelp het om die brand te probeer blus.

Indien jy die gesin wil help met enige donasies, veral kos en toiletware kan jy vir Jessica: 076 914 7607 of Deon: 074 908 0240 skakel.

Exit mobile version