CrimeNews

Skoolseuns te vinnig vir koperdief

’n Koperdief het sy moses teëgekom toe skoolseuns hom in die huis betrap.

’n Koperdief het sy moses teëgekom toe skoolseuns hom in die huis betrap. Hy is op Dinsdag, 18 September, in ’n huis betrap waar hy vermoedelik agter koper aan was.

“Ek en my vriend is ongeveer 11:00 uit die huis uit om te gaan eksamen skryf en het water by die dak sien uitkom. Ons het gedink ons sal kyk wat aangaan wanneer ons terugkom en teen 15:00 toe ons terugkom by die huis, het ons onraad vermoed. Ons het ’n verdagte man in die badkamer gekry en gesê hy moet stilstaan. Hy het toe ’n ‘site cutter’ uitgeruk en ons het in ’n geveg betrokke geraak,” het Tertius Venter die gebeure herroep.

Hy het bygelas dat hy sy ma laat weet het van die verdagte man in die huis en die buurtwag na die huis ontbied is.

“Die man het my gebyt, so ek moes hospitaal toe gaan vir ’n klem-in-die-kaak inspuiting.”

LEES OOK

Gesteelde koper kabels gevind

Huis word weggedra weens geen krag

Me. Maureen Scheepers, operasie koördineerder van die SACCW (South African Community Crime Watch) het gesê dat sy al voorheen oproepe van die gesin ontvang het.

“Flip Opperman en Tommie Potgieter het ook op die oproep reageer en toe ons daar kom, was die verdagte man in die hoofslaapkamer se badkamer waar die seuns hom laat sit het. Ek en Tommie het iets gesoek om hom mee vas te maak en ’n karatebelt gevat wat die naaste was. Ons het hom buite op die gras laat sit en gewag vir die polisie terwyl Legacy Emergency Specialists ontbied is. Albei seuns moes so bietjie mediese hulp ontvang het.”

Venter het bygevoeg dat die water wat uit die dak loop, van die geiser afgekom het nadat die man reeds die koperpype daarvan afgehaal het.

“Die verdagte man het drade van onder andere die ketel en televisie by hom gehad waarvan hy vermoedelik die koper wou uithaal.”


Die verdagte deur skoolseuns betrap op Dinsdag, 18 September.

Scheepers het bygevoeg dat toe die seuns by die huis aankom, hulle reeds bedag was omdat hulle vermoed het dat iets dalk verkeerd was.

“Hulle was op hul hoede en ons versoek van die gemeenskap om altyd versigtig te wees wanneer hul by die huis aankom. Ons kry ’n groot aantal huisinbrake deur die dag en dit neem weekliks toe. Die gemeenskap moet nie naïef wees nie. Wees altyd versigtig wanneer jy by die huis instap, iemand kan dalk net vir jou wag.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button