CrimeNews

Pasop vir skelms wat jou bedrieg by ’n OTM

Jou OTM-pinkode is een van die persoonlikste kodes in jou geheue opgeskryf. Maar deesdae het skelms dit nie nodig om jou rekening dolleeg te trek nie.

Jou OTM-pinkode is een van die persoonlikste kodes in jou geheue opgeskryf. Maar deesdae het skelms dit nie nodig om jou rekening dolleeg te trek nie.

Talle OTM-kaartskelms is vasgetrek, maar wees steeds op jou hoede wanneer jy by ’n OTM geld trek.


Beweerde OTM-kaartskelms

Op Sondag, 26 Augustus, het kaartskelms hulle verbeel dit is ook ‘pay day’ deur van ander te steel. Me. Maureen Scheepers, operasie koördineerder van die SACCW (South African Community Crime Watch) het vertel dat sy nuus ontvang het van OTM- kaartskelms wat doenig is in Tasbetpark op Saterdag, 25 Augustus.

“Die registrasienommer van die voertuig is deurgegee en Flip Opperman, een van ons reaksielede is uit na die area. Net betyds dat hy die voertuig kon sien uitry en hulle agtervolg tot by ’n vulstasie naby Duvhapark. Hy het die verdagtes gemonitor maar toe die vermeende verdagtes sirenes hoor, het hul daar weggejaag. Dit was net ’n ambulans wat die klomp op hol gejaag het,” het Scheepers gesê.

LEES OOK

Pasop vir langvinger-grypdiewe by OTM’e

OTM diewe maak sakke vol

“Hulle het die Bethal-pad gevat.”

Sy het vertel dat ’n ander reaksielid toe die slagoffer na die polisiestasie gevat het om ’n saak te open en dat Opperman toe afgestaan het.

Die volgende dag is die mans toe sowaar terug, weer by Tasbetpark en Scheepers is weer in kennis gestel. Opperman het weer betyds opgedaag en die verdagtes agtervolg na die dorp se kant toe.

“Hulle het by Highland Mews gestop en is daar deur die polisie vasgetrek. Hulle het ’n paar bankkaarte in hul besit gehad, en was besig om die kontant te trek uit verskeie rekeninge. Ongeveer 10 beamptes was daar om die suksesvolle arrestasie te maak,” het Scheepers bygevoeg.


Beweerde OTM-kaartskelms

“Hulle voertuig is ook deursoek en daar is baie kaarte gekry. Alles is ingeboek as bewyse en die verdagtes is ook positief uitgeken.”

Vroeër die week is nog OTM-kaartskelms in Bronkhorstspruit gevang, maar ongelukkig vrygelaat as gevolg van ’n tekort aan bewyse, voor die saak op die hofrol geplaas kon word.

’n Informant by die Bronkhorstspruit Landdroshof het op Donderdag, 23 Augustus, die WITBANK NUUS in kennis gestel dat die verdagte nie meer in aanhouding is nie.

Die twee verdagtes is gevolg vanaf eMalahleni, ook in die Klipfontein-area waar hulle slagoffers van hul bankkaarte beroof het.


Beweerde OTM-kaartskelms

“Op Woensdag, 22 Augustus, was ek in ’n sentrum in Klipfontein om geld te trek en verdagte mans by ’n OTM opgemerk. Ek het uitgegaan en by my kar se deur gestaan en omdat dit vroeg was, was daar slegs ’n paar karre in die parkeerterrein. Ek het die mans opgemerk en agtervolg, maar die verdagte voertuig by ’n verkeerslig verloor.”

Sy het bygevoeg dat die voertuig ongeveer 35 minute later in Bronkhorstspruit opgemerk is en reaksielede is uit soontoe. Met die hulp van ’n sekuriteitsmaatskappy is die mans vasgetrek met talle bankkaarte in hul besit.

“Die een man is in hegtenis geneem en die ander een het weggehardloop na die naaste taxistaanplek,” het Scheepers ten slotte gesê.

Back to top button