‘Alle aardse besittings is weg, maar ons lewe nog deur God se genade’

Alles is pikswart gebrand – die verwoesting en verlies is groot, soveel jare se sentimentele artikels tot houtskool verbrand.

Alles is pikswart gebrand – die verwoesting en verlies is groot, soveel jare se sentimentele artikels tot houtskool verbrand.

Mnr. Gert van Rooyen (91) en sy vrou, Ria (71) kon net verslae toekyk hoe hul aarde besittings en die plaashuis waarin hulle 31 jaar gewoon het, Dinsdag 7 Augustus deur die vlamme van ’n weghol veldbrand verswelg is.


Die plaas langs die Verena-pad waar die huis afgebrand het Dinsdag, 7 Augustus.

Dit was net die verkeerde tyd om ’n vuur te begin om die plaashuis langs die Verena-pad, want daar was erge winde wat begin waai het en die vuur het buite beheer geraak.

LEES OOK

Polisie soek leidrade na plaashuis brand

Huis brand af wyl gesin met vakansie is

Boere van die omliggende omgewing het uitgegaan om te help om die vlamme te probeer blus, maar die vuur was te groot en dit het begin versprei.

’n Oproep is gemaak na die eMalahleni Brandweer vir hulp toe die brand nog in die veld was.

Met die wind wat sterker begin waai het, het die vlamme nader aan die Van Rooyens se plaashuis gekom.


Me. Ria van Rooyen word ondersteun deur haar vriende terwyl hul kyk hoe die rook nog uit hul huis borrel.


Me. Adel Bester word vertroos deur ʼn vriendin terwyl hulle kyk na wat eens die plaashuis was.

Ria het hulle twee voertuie uit die motorhuis getrek, terwyl Gert die beeste uit die kraal gekry het en na veiligheid geneem het.

“Daar was net tyd om die voertuie te red, ek kon nie eens my handsak kry nie,” het ’n emosionele Ria gesê.

Die brandweer het eers ’n voertuig uitgestuur na die brand en toe hulle sien hoe groot die vuur was, het hulle die groot brandweerwa uitgestuur, maar dit was te laat, die huis het alreeds afgebrand.

“Ek is baie getraumatiseer deur die brand, maar was dokter toe. Die mense in die gemeenskap was baie goed vir ons en blyplek is vir ons gegee deur Dick Jacobs”.

Ria, wat vir baie jare in die onderwys was, is ’n baie sentimentele persoon.

“Al my foto’s is weg, Gert se gewere en al my juweliersware het so in een bondel gesmelt,” het Ria gesê.


Al wat oorgebly het van die plaashuis, is net die mure.


Vlamme brand in die agtergrond waar die plaashuis afgebrand het op Dinsdag, 7 Augustus.

Sy hou van bak en klere maak, maar al haar bakpanne, drie oonde en naaimasjiene is ook in die brand verwoes.

Ria se hart is ook nog baie seer oor haar verkleurmannetjie en ‘Voëltjie’, die African Grey wat ook omgekom het in die brand.

“Op die Dinsdagoggend het hy nog vir my gevra: ‘Oumatjie het jy lekker geslaap’,” het Ria met trane in haar oë gesê.

Die Van Rooyen-egpaar wil almal bedank wat gehelp het op dié dag en steeds help. “

Ons wil graag baie dankie sê aan Dick, al ons familie, Annetjie, Piet, Adam, Lettie en ons kinders Adel en Pieter. Dankie ook aan die Witbank Vroue Landbou-unie en die ander VLU takke in eMalahleni vir hul bystand en ondersteuning.

Die plaas is onlangs verkoop, maar die nuwe eienaar het gesê dat die egpaar op die plaas kon aanbly tot hulle ’n ander plek kry.

“Nou is alles weg, maar Gert het gesê dat ons moet bly wees dat ons nog mekaar het, want die lewe gaan aan,” het Ria opgemerk.

Exit mobile version