EntertainmentLifestyleNewsSchools

HGH-koor is wêreldklas

Hoërskool Generaal Hertzog se koor het rede om fees te vier en die skool, stad en provinsie kan uit volle bors saamsing oor dié spogkoor se prestasie by die World Choir Games.

Hoërskool Generaal Hertzog se koor het rede om fees te vier en die skool, stad en provinsie kan uit volle bors saamsing oor dié spogkoor se prestasie by die World Choir Games.

HGH was die enigste skoolkoor in Mpumalanga wat deelgeneem het aan wat beskryf word as die wêreld olimpiese spele vir kore en het gewys dat hulle onder die bestes in die wêreld gereken word.

Die koor het teruggekeer met ’n goue diploma en ’n derde plek in die ope-kompetisie se gemengde jeugkoor afdeling wat op 11 Julie plaasgevind het.

Die 10de World Choir Games is vir die eerste keer vanaf 4-14 Julie in Afrika aangebied met Pretoria as gasheerstad. Die kompetisie het by ses lokale oor 11 dae plaasgevind.

’n Totaal van 16 000 koorlede van 300 kore uit 60 lande was deel van hierdie groot geleentheid.

’n Totaal van 155 Suid-Afrikaanse kore het deelgeneem en 76 medaljes ingepalm wat die meeste was in die kompetisie. China was tweede met 25 medaljes, Rusland was derde (17), Amerika vierde (15) en Duitsland vyfde (9).

Daar was 27 kategorieë waarin kore kon deelneem in twee kompetisies, naamlik die kampioene-kompetisie en die ope-kompetisie.

Die ope-kompetisie se gemengde jeugkoor afdeling waaraan die HGH-koor deelgeneem het, het 17 inskrywings gehad wat deur een Suid-Afrikaanse beoordelaar en vier beoordelaars van oorsese lande behartig is.


Hoërskool Generaal Hertzog se koor het onlangs bewys dat hulle van wêreldgehalte is tydens hul deelname aan die World Choir Games in Pretoria. Die koor het uitstekend gevaar deur ’n goue diploma te verwerf.

Die wenners was Hoërskool Bellville van Kaapstad met die North Jersey Homeschool Association ‘Genesis’ Chorale van Amerika in die tweede plek. Die HGH-koor was dus tweede in Suid-Afrika en derde in die wêreld en het ander bekende skoolkore soos Hoërskool Stellenbosch, DF Malan Hoërskool en Hendrik Verwoerd Hoërskool die loef afgesteek.

“Ons koor het die voorreg gehad om in die Voortrekkermonument op te tree op 12 Julie, wat ’n ongelooflike ervaring was vir die koorlede. Ons het ook in ’n ‘friendship concert’ gesing by Loftuspark winkelsentrum saam met drie ander kore. Die koor van België het sommer hier spontaan saam met ons begin sing aan een van die liedjies wat hulle geken het,” het mnr. Bennie Botha en Wilna Erasmus van HGH, wat saam met die koor getoer het, gesê.

Die 79 lede in die HGH-koor het ook ’n baie insiggewende en leersame werkwinkel bygewoon wat deur dr. André J. Thomas, Amerikaanse komponis, koorleier en professor in musiek aan die Florida State University, aangebied is. Hiér is nuwe musiek aangeleer en het die koor selfs saam met ’n Japannese koor gesing.

Volgens mnr. Botha was die voorbereiding om aan die spele deel te neem baie intensief en het die koorlede, die koorleier, me. Surette Prinsloo en begeleier, me. Christa Erasmus, baie lang ure en tyd wat oor baie maande gestrek het, ingesit om reg te wees vir deelname.
Dit was ook nogal ’n proses om gekeur te word vir deelname.

“Ons moes vooraf klankopnames van die koor se musiek na die keuringskomitee van Interkultur in Duitsland stuur om keuring te kry,” het mnr. Botha verduidelik.

Die feit dat die koor die afgelope ses jaar na die ATKV-Applous Koorkompetisie se finaal deurgedring het, het ook beslis in hul guns getel.
Met hul goue diploma klas 2 klassifikasie het HGH se koor nou outomaties gekwalifiseer om in 2020 in die kampioenskap-kompetisie van die Wêreldkoorspele in Vlaandere deel te neem. Hulle het ook gekwalifiseer om aan die Wêreldkoor-kampioenskappe se kampioen-rondes deel te neem.

Dit is duidelik dat HGH die spele op ’n hoë noot afgesluit het en dat hulle beslis bestem is vir nog hoër note in die toekoms.

Back to top button