Rowers volg man wat geld trek tot by sy huis en skiet hom

Die gebeure van Saterdag 7 Julie speel steeds oor en oor af in haar geheue. Haar man, Piet Slabbert* sterk tans aan in die hospitaal nadat hy by die bank gaan geld trek het en in sy been geskiet is.

“Al wat ek sien is die groot oë en die swart en geel bande om hul gesigte,” het me. Joanie Slabbert* gesê.

Die gebeure van Saterdag 7 Julie speel steeds oor en oor af in haar geheue. Haar man, Piet Slabbert* sterk tans aan in die hospitaal nadat hy by die bank gaan geld trek het en in sy been geskiet is. Die voorval het by sy werksplek gebeur.


Die voertuig waarin mnr. Piet Slabbert gery en geskiet is, op Saterdag 7 Julie.

“Dit was nie nodig om hom te skiet nie. As hulle hom net genoeg kans gegee het, sou hy die geld vir hulle gegee het. Ons sou alles vir hulle gegee het. Maar hulle het net geskiet,” het sy Dinsdag 10 Julie gesê.

Me. Slabbert het vertel hoe haar man oudergewoonte gaan geld trek het by FNB in Klipfontein.

“As gevolg van die aard van ons besigheid, moet ons kontant by ons hê. Daar is geen ander opsie nie.”

Me. Slabbert het gesê hoe sy op die kamera gesien het dat hy op pad terug is, by die hek in.

“Ek het by die venster gestaan en op die kamera gesien hoe die silwer BMW agter hom aanry, en twee mans het uit die voertuig gespring nog voor hulle in die erf was. Die BMW het voor die ingang gestaan sodat Piet nie kon wegjaag nie. Elkeen het met ’n vuurwapen teen sy venster gestaan en ek het net geweet hulle gaan hom skiet. En toe klap die skoot,” het me. Slabbert die gebeure herroep.

LEES OOK

Polisieman in skietvoorval gewond

Polisie het pas twee verdagtes geskiet

Sy het vertel hoe alles in sekondes gebeur het, maar vir haar soos ’n leeftyd gevoel het.

“Die mans het binne die bakkie rondgeskarrel en iets gesoek. Ek het net deur die venster gekyk en gebid. Die BMW met sy pikswart getinte vensters het stadig weggery, asof niks pas gebeur het nie. Seker om nie aandag te trek nie,” het me. Slabbert verder gesê.

Sy vermoed dat daar drie of meer verdagtes in die voertuig was, want iemand moes bestuur het. Nadat die mans weg is, het sy uitgehardloop.

“Piet kon nie die deur oopkry nie. Ek het vir hom geskree en gevra of hy okay is. Die bakkie se venster was stukkend en die deurhandvatsels is afgeruk. Hy kon nie die deur oopkry nie en het deur die venster uitgeklim. Sy laaste woorde aan my was: hulle het my bakkie se sleutels. Toe is hy weg.”

Daarna het alles baie vinnig gebeur.

“Ons wil die engele wat uit die hemel geval het, asseblief baie groot bedank. As dit nie vir hulle was nie, hulle vinnige optrede en die besigheid langsaan se hulp, het my man dit nie gemaak nie. Die mense was per toeval hier, hulle koop nie gewoonlik by ons nie. Daardie dag het hulle besluit om hiernatoe te ry. Die bure het gehardloop om te help en iemand het baie vinnig gedink om Piet se been te bind om te keer dat hy verder bloed verloor. Ons is toe in ons kliënte se kar hospitaal toe. Die ambulans sou beslis nie betyds hier gewees het om sy lewe te red nie. Hy het net teveel gebloei.”

Die bure langsaan het eers gedink dat dit ’n band is wat bars, maar het me. Slabbert hoor skree en besef iets is fout.

Mnr. Slabbert is in sy been geskiet. Die vermoedelike 45 kaliber koeël is eers deur die venster, toe teen die stuurwiel, daarna deur mnr. Slabbert se been en toe teen die rathefboom vas.

“Die dokter het verduidelik dat die koeël die are beskadig het. Die hoofslagaar in die been is net-net gemis. Dit is beskadig daar waar die twee are bymekaar kom, maar dit klink nie of hy gevoel in sy haak gaan hê om weer normaal te loop nie. Die dokter gaan ’n tipe stut bou sodat hy kan loop, en nie slegs op sy tone moet loop nie. Die senuwees na die haak is af,” het me. Slabbert verduidelik.

“Die hele been is ook steeds oop, hy is Saterdagaand dadelik teater toe en toe in die intensiewe sorgeenheid sedertdien, maar dit klink of hy vandag na ’n gewone saal oorgeplaas gaan word. Die drukking van die wond was nog net te veel om die wond toe te maak, nadat sy been aan beide kante oopgesny is om die drukking te verminder.”

Me. Slabbert het ook ’n oproep ontvang van haar man, op Dinsdag 10 Julie waar hy gesê het dat hy die volgende dag vir die tweede keer teater toe gaan en ’n ‘clip’ gaan ingesit word om die wond te begin heg.

“Dit gaan nog ’n baie lang proses wees. Die dokter het ook verduidelik dat die vel krimp en soos die ‘clips’ ingesit word, hy moontlik later ’n veloorplanting nodig gaan hê.”


Mnr. Piet Slabbert sterk tans aan in die hospitaal.

Me. Slabbert het bygevoeg dat hy sedert Saterdag nog bloed ontvang het tot Maandag, 9 Julie, ná al die bloed wat hy verloor het.

“Hy klink goed. Ek weet nie hoe dit emosioneel met hom gaan nie. Daar is heeltyd mense en hy sal nie praat nie. Dit was vir ons albei ’n baie groot skok. Ek sukkel om te slaap in die aand. Al wat ek sien is daardie oë en die maskers. Maar ons vat dit een dag op ’n slag.”

Die BMW wat betrokke was in die voorval, is volgens ooggetuies ’n 530, laat 1990 model. Dit word beskryf as die ‘dolphin shapes’.
Hierdie insident volg na talle vorige soortgelyke insidente waar mense vermoedelik gevolg is vanaf die bank na geld getrek is.

Daar was ook in Mei berig dat mnr. Pien Pui-da sy lewe in ’n soortgelyke voorval verloor het.
Ander sake is ook intussen by Witbank Polisie aangemeld.

Kapt. Eddie Hall, mediawoordvoerder van Witbank Polisie het gewaarsku dat inwoners op die uitkyk moet wees vir verdagte voertuie agter hulle nadat hulle by die bank was. Mense wat groot bedrae geld trek, was al baie slagoffers van hierdie misdaad. Die verdagtes sal nie skroom om te skiet om die kontant te kry nie. Die polisie doen ’n dringende beroep op inwoners om nie groot bedrae kontant te trek nie, maar eerder elektroniese betalings te maak.

*Skuilname is gebruik om die identiteit van die betrokke slagoffers te beskerm.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version