Plot twee keer in een week geteiken

Mnr. Louis Steyn is steeds in skok na twee voorvalle op sy plot in minder as ’n week.

Mnr. Louis Steyn is steeds in skok na twee voorvalle op sy plot in minder as ’n week.

Hy het vroegoggend op Woensdag 21 Februarie twee skote op sy plot gehoor, min wetend dat een van sy werkers gewond is.

“Met die eerste skoot is my werker se kop net geraak wat nie ’n groot besering was nie, maar die tweede skoot is regdeur sy bobeen- voor in en agter uit. Ek het presies 05:20 die skote gehoor,” het Steyn die gebeure op Dinsdag 27 Februarie herroep.

Hy het bygevoeg dat die twee verdagtes nie iets wou steel nie, maar hy vermoed dat hulle wegkruipplek gesoek het.

“Hulle het ’n boutsnyer gehad en op vyf plekke probeer inbreek waar die drade geknip was. Ek vermoed toe al die alarms afgaan, hulle skuilplek gesoek het wat my werker geweier het. Hy het die een man glo vasgegryp maar is in die proses gewond.”

LEES OOK

Plaaswerker menige skietwonde opgedoen

Paartjie op plaas aangerand

Die werker is dadelik hospitaal toe geneem na die skietvoorval, hy moet nou net elke tweede of derde dag teruggaan vir behandeling. Hy kan nog nie werk nie.

Steyn het ook gesê dat sy werker nie ’n wapen gehad het om homself teen die 9mm te beskerm waarmee hy geskiet is nie. Die polisie het die gebruik van diè vuurwapen bevestig nadat die koeëldoppies op die toneel gevind is.

“Ons het na die mans gaan soek toe dit lig geword het, maar kon natuurlik niemand sien nie. Ek vermoed hulle kom van ‘Madalaplaas’ waar daar baie dwelmonheil broei.”

Steyn het vertel hoe hy op Maandag 26 Februarie groot skade gely het nadat een van sy Angus-bulle gesteel is.

“Ons het so twee kilometer verder net my bul se derms gekry daar waar hy geslag is,” het Steyn gesê.

“Ek bly al 50 jaar hier en nog nooit was dit so erg soos nou nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version