Paartjie op plaas aangerand

’n Man en vrou herstel steeds nadat hulle op ’n plaas naby Kendal aangehou en gemartel is deur rowers

’n Man en vrou herstel steeds nadat hulle op ’n plaas naby Kendal aangehou en gemartel is deur rowers.

Op Vrydag 26 Januarie, omstreeks 20:00 is mnr. Bertie Truter en me. Wilma Beech se rustige aand by die huis bederf met ’n aanval en trauma wat ’n leeftyd gaan hou.

Me. Sandra Badenhorst het Dinsdag 30 Januarie vertel dat Truter en Beech voor die televisie gesit het toe hulle ’n geraas gehoor het.

“My pa sê dat hy drie skote gehoor het, maar daar was geen sigbare bewyse hiervan nie. Ek dink hy het moontlik die rowers gehoor hardloop op die houtvloere. My pa het omgekyk en drie mans het hulle oorrompel. Die honde, ’n boerboel en twee miniatuur Doberman’s was net so verras soos my pa en Wilma om die mans in die huis te sien. Hulle is in die gang af en skielik was daar ongeveer agt mans in die huis,” het Badenhorst gesê.

“My pa en Wilma is van mekaar geskei en die rowers het die kluis se sleutels gevra. My pa se haelgeweer en 9mm pistool is ook in die voorval gesteel, saam met ammunisie.”

Daar word vermoed dat die rowers toegang tot die huis verkry het deur oor die elektriese heining te klim en is glo by ’n skuifdeur die huis binne.

Badenhorst het verder vertel dat die rowers glo Engels en Tswana gepraat het en dat hulle beslis daar was vir geld.

“Die rowers het heeltyd gevra vir geld en Krugerrande. Die bedrag geld wat in die huis was is die rowers mee weg. My pa het ’n gedeelte van die bedrywighede gemis na hy bewusteloos geslaan is. Wilma is gemartel, hulle het ’n plastieksak oor haar kop gesit tot sy byna versmoor het. Die rowers het heeltyd gevra vir geld. Hulle het dit ongeveer drie keer gedoen en besef daar is werklik nie meer geld in die huis nie,” het Badenhorst bygevoeg.

Die rowers het ook die televisie, klankstelsel, selfone en bankkaarte gebuit.


Mnr. Bertie Truter en me. Wilma Beech (foto: verskaf).

“My pa het eers vir hulle die verkeerde pinkode gegee, waarna Wilma verder geskop en geslaan is. Hy het toe die regte nommers gegee, wat geen verskil gemaak het nie, want hulle is verder mishandel.”

Badenhorst het verder gesê dat haar pa ’n Mercedes ry en die ratte sit by die stuurwiel.

“Die verdagtes het Wilma gaan haal, sy het hulle drie keer gewys hoe om die kar te ry, maar hulle kon dit nie regkry nie. Hier het hulle haar aanhou skop en slaan, en haar rug het vermoedelik hier skade opgedoen,” het Badenhorst gesê.

“My pa en Wilma het ongeveer 23:30 daardie aand by ons aangekom, nadat hul selfone gevat is kon hulle natuurlik niemand bel nie. Hulle was vir ongeveer drie ure in die huis aangehou deur die mans. Ons bly 500 meter van hulle af en het ’n ambulans ontbied wat my pa en Wilma na ’n hospitaal geneem het. Hulle is dieselfde aand weer terug by die huis en ons het gelukkig ook al die bankkaarte gestop voor die rowers geld kon trek. Hulle is nou okay, net pimpel en pers,” het Badenhorst gesê.

Beech se een hand lyk of dit gevoel verloor. Daar word vermoed ’n senuwee het seergekry en haar rug is steeds seer.

Badenhorst het gesê dat niemand naby die huis iets gehoor en gesien het nie en dat die sekuriteit ook nie was waar hulle moes wees nie.
Geen voertuie is ook opgemerk waarmee die verdagtes moontlik kon ry nie.

“Niemand in die area het enigiets opgemerk nie. Hoe dit moontlik is, weet ek nie,” het Badenhorst ten slotte gesê.

Ogies Polisie ondersoek die saak. Geen arrestasies is in die verband gemaak nie.

LEES OOK

77-jarige op plaas aangeval

Jongman (21) dood gevind op plaas

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version