Polisieman in skietvoorval gewond

’n Polisieman van Middelburg se veediefstal-eenheid is in ’n skietvoorval gewond op die Zaaihoek-pad na hy ’n veediefstal-klagte in die omgewing ondersoek het.

’n Polisieman van Middelburg se veediefstal-eenheid is in ’n skietvoorval gewond op die Zaaihoek-pad na hy ’n veediefstal-klagte in die omgewing ondersoek het.

Die aanval op adjudant-offisier Wimpie Botha het Sondag 19 November plaasgevind. Hy sterk tans in Life Cosmos Hospitaal aan nadat hy twee keer in sy bene geskiet is deur die aanvallers.

“Ek was op pad terug na Middelburg en het my spoed verminder by die sirkel. ’n Grys Audi het voor my gestop en toe spring die twee passasiers uit, vuurwapens in die hand. Hulle het in my bakkie ingeklim en gesê ek moet ry. Daar was nog twee mans binne in die Audi. Hulle het vir my ’n vloeistof, wat soos water gelyk het, gegee om te drink.”


Die voertuig waarmee a.o. Wimpie Botha gery het ten tye van die aanval op Sondag 19 November op die Zaaihoek-pad.

Volgens a.o. Botha is hy aangesê om op die Verena-pad uit te ry.

“Hulle het my laat rondry, en ek het net in my spieël die Audi so ent agter ons gesien, maar net tot ons by die grondpad ingery het. Die bosse waarin ons was, was nie sigbaar van die pad af nie.”

A.o. Botha het gesê dat hy teen hierdie tyd bedwelm begin voel het, maar hy het net aanhou ry. Hulle het in die veld gestop en hy het die sleutel uit die aansitter gehaal en dit in die lang gras in gegooi.

“Hulle het my beveel om uit te klim, wat ek gedoen het en gesê ek moet na die Audi toe stap. Toe ek nie wou nie het hulle my teen die grond vasgedruk en dis toe hulle my skiet met my dienspistool.”


A.o. Wimpie Botha sterk tans aan in Life Cosmos Hospitaal na hy twee keer in sy bene geskiet is tydens ’n aanval op Sondag 19 November.

Hy het vertel dat een van die mans sy dienspistool uit sy sak gehaal het, net voor hy uit die bakkie geklim het.

“Die een het gemik om my teen die bors geskiet. Ek vermoed hulle het nie rondtes in hul gewere gehad nie. Dis toe dat ek die geweer uit sy hande gryp en met hom begin stoei. Ek het hier my eie vuurwapen teruggekry en agter hulle aan geskiet toe hul weghardloop.”

Kapt. Eddie Hall, mediawoordvoerder van Witbank Polisie, het gesê dat a.o. Botha nege skote geskiet het tydens die oor-en-weer skietery en ook dat dit hier was waar a.o. Botha se bakkie se vensters uitgeskiet is.

Na die aanval kan a.o. Botha nie veel onthou van wat gebeur het nie.

“Ek weet nie of ek my bewussyn verloor het nie, want dit het net voor 15:00 gebeur en my vrou sê sy het net na 17:00 hiervan gehoor. My selfone was stukkend gekap teen ’n klip en ek het gelukkig gekyk waar in die gras ek my bakkiesleutels gegooi het.”

Kapt. Hall het ook bygevoeg dat mens kan aanneem dat die mans in die Audi gespring het om weg te kom.

A.o. Botha het verder gesê dat daar twee ure was tussen die voorval en toe hy by ’n plaashuis in die omgewing aangekom het. Hy kan baie min onthou. Net dat hy sy selfoon en sleutels gesoek het en dat sy selfoon nie baie diep in die bosse was nie.

Mnr. Gideon Nell het Dinsdag, 21 November aan WITBANK NUUS vertel dat een van sy werkers die hek vir ’n man oopgemaak het

“Ek het die bakkie gesien en gaan uitvind of iets skort. Die man het vir my gesê dat hy geskiet en byna gekaap is. Ek het die deur oopgemaak en sy wonde gesien. Ek het na my vrou geroep om verbande te kry.”

Nell het gesê dat sy vrou die wonde verbind het na hulle hom uit die bakkie gehaal en op die gras neergesit het. A.o. Botha het gesê dat hy kan niks hiervan onthou nie.


A.o. Wimpie Botha.

“Ek het my buurman gaan roep en ons het hom na Life Cosmos Hospitaal se ongevalle geneem,” het Nell gesê.

Volgens kapt. Hall het is daar toetse op a.o. Botha gedoen om te probeer vasstel of daar verdowingsmiddels in die water was wat hy moes drink.

A.o. Botha het ten tye van die aanval nie in ’n gemerkte bakkie gery nie en was ook nie in uniform nie.
Die verdagtes het klapmusse op gehad, met blou handskoene. Hulle het nie veel gepraat nie. A.o. Botha onthou net dat een van die mans ’n hees stem gehad het.

“Ek wil net graag die boere bedank wat my gehelp en hospitaal toe geneem het,” het hy ten slotte gesê.

*Die veediefstal saak wat ondersoek was voor die aanval, was op ’n plot op die Zaaihoek-pad. Vier bokke en twee skape is na bewering gesteel. A.o. Botha het gaan ondersoek instel nadat hulle ’n oproep ontvang het dat die vee moontlik so twee plotte verder, gewaar is. Dit het aan die lig gekom dat dié inligting vals was.
*Kapt. Hall het bygevoeg dat in die 2016/2017 jaar, daar 57 polisiebeamptes geskiet is en dat die bewusmaking hiervan van kardinale belang is.

ALSO READ

Verdagtes skiet op polisie

Polisieman geskiet en gewond

Exit mobile version