Local newsNewsUpdate

Smokkelkroeg se einde moontlik in sig

Die drankraad is tans betrek by die smokkelkroeg in Dulcimerstraat, Tasbetpark en hopelik kan inwoners vanaf Julie in vrede lewe.

Die drankraad is tans betrek by die smokkelkroeg in Dulcimerstraat, Tasbetpark en hopelik kan inwoners vanaf Julie in vrede lewe.

Mnr. Nivard Lubisi het Maandag, 5 Junie gesê dat inspekteurs die perseel besoek het, waar ’n smokkelkroeg inwoners tot raserny dryf.

“Aangesien ons geen aktiwiteit daar gesien het nie, kon ons niks doen op daardie stadium nie. Maar, wat ek wel kan beloof, is dat die kroeg se lisensie nie in Julie hernu sal word nie. Daar is geen moontlikheid dat ’n smokkelkroeg in hierdie area veilig kan wees nie,” het Lubisi gesê.

’n Ander inwoner het vroeër gesê dat die kinders in die omgewing alles moet sien, waar dronk mense in die straat urineer en ook hoe hulle slinger-slinger die strate afloop met drank in hul hande. Musiek is so hard, dit kan ses huise in die straat af gehoor word en die veiligheid van almal is in gedrang, was slegs sommige kommerwekkende aspekte.

Mnr. Martin Hoare, ook ’n inwoner van Dulcimerstraat het gesê dat hulle die afgelope naweek byna niks geslaap het nie, omdat dit weer net een partytjie na die ander was. Hy was ook al gedreig met sy lewe, wanneer hy hulle gaan stilmaak. Die polisie is ook hierby betrek, maar hul mag stop waar die dranklisensie begin.

“Die vrou was al toegesluit, maar wanneer sy in die hof kom, wys sy haar dranklisensie en hulle kan niks aan haar doen nie,” het Hoare ook gesê.

Lubisi het verder bygevoeg dat die eienaar van die smokkelkroeg voordeel getrek het uit die skuiwergat wat ontstaan het met die dranklisensie wat sy verkry het.


’n Kliënt van Mtukulu Tavern urineer in die straat. Dit is slegs een van die menige klagtes van inwoners in die gebied (foto: verskaf).

“Sy het wette oortree en as gevolg daarvan, gaan ons nie haar lisensie hernu nie. Ek was ook in kontak met eMalahleni se polisie en die ondersoekbeampte betrokke by hierdie saak het sy frustrasie duidelik gemaak. Ek het ook met mnr. Hoare gepraat en hy het gesê dat ‘kliënte’ ’n ander hek gebruik wanneer hulle die erf binnegaan, dus word niks deur die dag van die hoofhek opgemerk nie. Ons is steeds besig om intussen te kyk wat ons kan doen om die kroeg finaal te sluit,” het Lubisi bygevoeg.

Lubisi het Woensdag, 17 Mei genoem dat die uitreikdatum van die lisensie gedateer is vir 19 November 2008 en dat gedurende die tyd van bestaan, menige klagtes van die publiek ontvang is.

“’n Verhoor is gehou en op 9 Julie 2010 is die smokkelkroeg se lisensie getermineer, nadat die lisensiehouer skuldig bevind is deur die Mpumalanga Drankraad op alle klagtes teen haar. Die smokkelkroeg kon weer heropen, op voorwaarde dat dit na ’n ander perseel skuif waar dit nie ’n oorlas is vir ander inwoners van die gebied nie. Die smokkelkroeg is gesluit vir die doel om alkohol te verkoop. Maar, die lisensiehouer het aangehou om haar dranklisensie te hernu op ’n jaarlikse basis, om te voorkom dat dit verval, wyl sy opsoek was na ’n ander perseel. In 2016 het die ou lisensie, uitgereik onder die terme van 1989 verval, nadat nuwe wetgewing ingetree het, maar die sanksies tans op Mtukulu Tavern is nie van die rol geskrap nie. Die lisensiehouer is wel bewus van die sanksies teen haar smokkelkroeg en ook dat sy nie drank mag verkoop by bogenoemde adres nie. Ons as die Mpumalanga Drankraad sal enige nodige stappe neem om te verseker dat wetgewing geskied en dat die smokkelkroeg verskuif na ’n ander perseel,” het Lubisi ten slotte gesê.

LEES OOK:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/88620/stryd-teen-smokkelkroeg-steeds-nie-gewen/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/93150/smokkelkroeg-word-ondersoek/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button