‘My lewe is beslis meer werd’

“Ek en my man het nie parkering naby die kantore gekry nie, so toe sê ek vir hom om die ondergrondse parkering te gebruik."

In vier verskillende aanvalle het die verdagtes met hope kontant weggekom.

’n Man is op Donderdag, 18 Mei in Woltemadestraat aangeval en twee selfone, sy beursie en skootrekenaar is gesteel. Hy het aan die polisie vertel dat hy ’n man verby hom sien loop het en daarna het dieselfde man hom aan sy keel gegryp en sy besittings gesteel.

Die verdagte het hom glo ook met ’n skroewedraaier gedreig.

Nog ’n man is op dieselfde dag op die N4-snelweg beroof toe hy sy trok langs die snelweg gestop het. Hy het vertel dat hy ’n klop aan die venster gehoor het en ’n man met ’n vuurwapen gesien het. Een van die vier verdagtes het glo die venster stukkend geslaan met ’n skroefsleutel en selfone, kontant en sy beursie gesteel.

Me. Wilna Strydom het ook vertel hoe sy op Woensdag, 17 Mei in by die munisipale kantore beroof is.

“Ek en my man het nie parkering naby die kantore gekry nie, so toe sê ek vir hom om die ondergrondse parkering te gebruik. Hy het vir my in die kar gewag en toe ek by die uitgang van die parkering kom, het ’n man langs my gestaan en gesê: ‘Your handbag’. Ek het dit dadelik vir hom gegee,” het Strydom vertel.

Verder het sy ook gesê dat die verdagte haar juwele en horlosie ook gevat het.

“My lewe is beslis meer werd as die aardse besittings. Ek het alles vir hom gegee en is terug na my man wat in die kar gewag het.”

Strydom het bygevoeg dat haar man na die verdagte gaan soek het, maar niemand in die omgewing gesien het wat verdag gelyk het nie.

“Ten tye van die roof, het ek ook niemand naby gesien wat ek kon vertel het wat gebeur het nie,” het sy ten slotte gesê.

Op Maandag, 15 Mei is nog ’n saak by die polisie aangemeld. Die slagoffer het vertel van ’n man wat hom op die hoek van Mandela- en Jellicoestraat glo gevra het vir ’n sigaret en kort daarna ’n mes teen sy keel gedruk het. Slegs sy selfoon is in die voorval gesteel.

LEES OOK:

Raaisel oor roof laat inwoners wonder

Twee minute roof

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version