Local newsNews

Swaarvoertuie ry paaie voos

Ogies inwoners is nie die enigste wat boos is oor mynaktiwiteite in hul omgewing nie.

Ogies inwoners is nie die enigste wat boos is oor mynaktiwiteite in hul omgewing nie.

Die eienaar van Boesmanland Lapa, mnr. Paul Roux is net so kwaad oor die skade wat swaarvoertuie aan die paaie, net ’n katspoegie ver van Ogies af, aanrig.

“Besigheid het ’n ernstige knou gekry met die wat die paaie so onbegaanbaar is,” het Roux gesê.

Hy het verwys na die pad wat voor Boesmanland Lapa verbyloop.
Roux het gesê hy het die pad vanaf 1998 af self onderhou.

“Daar is twee besighede wat ook hulp aangebied het, en saam het ons die pad in stand gehou. Maar, dit word ’n duur oefening.”

Roux het al duisende rande aan die pad spandeer met materiaal en mannekrag.


Dis swaarvoertuie soos hierdie wat die paaie voos ry.

’n Maatskappy wat paaie teer het al talle maal teer geskenk wat Roux gebruik het om die slaggate mee op te vul.
Een van sy bure, ’n vervoermaatskappy het ook gereeld hand bygesit om die slaggate te vul.

“Ons kan net nie byhou nie. Daar is ongeveer 12 verskillende maatskappye wat se trokke die pad stukkend ry. Almal vervoer steenkool. En nie een van hulle kom sit ’n hand by om die pad in stand te hou nie,” het ’n baie ongelukkige Roux gesê.

Hy het gesê hy het gehoor dat die Departement van Vervoer die pad sou kom oordoen, maar daar het nog niks gebeur nie.

Provinsiale owerhede het ʼn regsplig om, op grond van sosiale waardes soos vervat in openbare beleid en wetgewing, standaarde vir die instandhouding van paaie te implementeer en om redelike veiligheid vir padgebruikers te verseker.

“’n Belegging in die infrastruktuur is tog die sleutel toe beter dienslewering en ook veiligheid van ander motoriste,” het Roux gesê.

Die Departement van Openbare Vervoer is genader vir kommentaar, maar het nog nie gereageer nie.
Die forum vir Ogies se besorgde inwoners is ook bekommerd oor die baie trokke wat nou deur dié Hoëveldse dorpie ry.


Die swaarvoertuie ry aan die regterkant van die pad om die slaggate die vermy.

Die forum se regsverteenwoordiger, mnr. Zehir Omar het die myngroep, Glencore hof toe gesleep oor die pad tussen die R555 en die R545 wat Glencore wou sluit om aan te gaan met hul mynbedrywighede.

Inwoners is bekommerd dat sou die pad toegemaak word, daar meer swaarvoertuie deur Ogies moet ry om by hul oorspronklike roetes uit te kom.

Die saak word binnekort aangehoor en intussen mag die myn nie aan die pad raak nie.
Die Departement van Minerale Hulpbronne het gesê hulle het 48 mynregte en 14 myne permitte in die eMalahleni en Ogies uitgereik.

Alle lisensies vir steenkoolmyne bevat voorwaardes wat ‘gelyklopende rehabilitasie’ vereis.
Maar daar word niks genoem van die instandhouding van paaie nie. En dis juis waar menselewens in gedrang is, want slaggate is ’n stil en gesiglose ‘moordenaar’ en duisende ongelukke word jaarliks deur slaggate veroorsaak.

ALSO READ:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/51585/slaggat-herstel-projek-van-stapel-gestuur/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/61317/gemeenskap-teer-en-veer/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button