Rowers steel tekkies van man se voete af

Mnr. Menzie Tuck sal nie sommer die paar dae voor sy verjaarsdag maklik vergeet nie.

Mnr. Menzie Tuck sal nie sommer die paar dae voor sy verjaarsdag maklik vergeet nie.

Tuck wat later die week 27-jaar oud word, is by sy plot in Tasbetpark 1 deur gewapende rowers oorval.
Die aanval het na afloop van ’n aksiekrieket-oefening op Maandag 8 Mei plaasgevind.

Hy het gesê toe hy in die motorhuis uit sy kar klim het gewapende mans op hom gewag.

“Ek het eers net die een met ’n vuurwapen opgemerk en wou myself nog verdedig toe die ander vyf vanuit die niet te voorskyn gekom het. Een was gewapen met ’n skroewedraaier en een met ֹ’n mes.”

Een van die mans het vir in Engels gesê hy moet saamwerk, hom op die grond neergegooi, sy hande vasgebind en ’n lap in sy mond gesit.

“Hy het die heeltyd die 9mm teen my kop gehou en gevra waar is die huis se sleutels. Die man het gesê as ek ’n geluid maak is ek dood.”

Tuck het besef dat sy ma, ouma en verloofde sagte teikens is en vir die aanvallers gesê hy het nie huissleutels nie, hy wag vir iemand om die karavaan se sleutel vir hom te bring want dis waar hy van plan was om te slaap.

Die rowers het hom die Solomon tekkies wat hy gedra het laat uittrek, sy selfone gesteel en sy beursie en kontant gevat. Hulle het hom toe na die bopunt van die plot geneem en bly dreig om hom te skiet.
Intussen het sy verloofde, me. Lee-Zandre de Vos Tuck gaan soek omdat hy voor hy by die huis aangekom het vir haar telefonies gesê het hy is op pad.

“Dit was pikdonker en hulle het bly vra hoeveel mense is in die huis. Ek het sommer getalle opgemaak en gesê ses.”

Tuck het gesê die een verdagte het ’n patroon vir hom gewys, dit in die vuurwapen gesit en gedreig om hom te skiet.

“Hy kon nie tel nie. Hy het gesê nul, twee en toe opgehou.”

De Vos se beweging aan die onderkant van die plot in haar soeke na Tuck, het die rowers senuweeagtig gemaak.

“Hulle het my op my rug teen die grond gehou sodat Lee-Zandre my nie kan sien nie. Toe hulle vlug het ek my kans waargeneem en in my kouse op daardie klipperige grond afgehardloop en die huismense gaan waarsku.”

Tuck het vertel in so ’n situasie reageer mens onwillekeurig,

“Ek was baie kalm. Terwyl ek op die grond gelê het, het ek heeltyd gebid vir beskerming.”

Hy het gesê in die 23 jaar wat hulle op die plot bly was dit die eerste ernstige voorval.

“Kwaaddoeners het al diesel en trok batterye gesteel, maar nog nooit was ons lewens in gevaar nie.”

Polisiewoordvoerder kapt. Eddie Hall het gesê die feit dat Tuck kalm gebly het, het waarskynlik sy lewe gered

“Jou aksie bepaal hulle reaksie,” het kapt. Hall gesê.

LEES OOK:

Geld tussen bene en geweer teen kop

Goeie môre met ’n geweer

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version