Rowers nie bang om te skiet nie

’n Gesin het ’n noue ontkoming gehad toe rowers op hulle geskiet het.

’n Gesin het ’n noue ontkoming gehad toe rowers op hulle geskiet het.
Die skietery het Saterdag 29 April helder oordag in Ben Fleur plaasgevind.

Rowers het op die De Figueiredo-gesin losgetrek toe hulle deur me. Laetitia de Figueiredo gekonfronteer is, terwyl hulle in haar bure se huis ingebreek het.

“Ek was skuins voor 14:00 besig om hande te was in my badkamer toe my buurvrou se hond snaaks begin blaf het. Die hond het geblaf en bly opkyk en op daardie stadium kon ek niks sien nie,” het Laetitia vertel.

Sy het so in die verbygaan vir haar man Luis gesê om saam te stap om te gaan kyk wat by die bure aan die gang is.

“Ons dogter, Alison, het ook saamgestap. Ek het nooit verwag om trompop in die rowers vas te loop nie,” het Laetitia gesê.


Dié blou BMW se insittendes was die afgelope naweek baie besig in Ben Fleur.

Sy het gesê toe sy om die draai van hul pypsteel erf kom het sy iemand gesien afgebuk en vir Luis en Alison gewys om die polisie te bel.

“Toe ek om die hoek kom, toe loop ek letterlik in die rowers vas.”

Met haar tablet in die hand het sy tot by die blou BMW waarin die rowers was geloop en die naaste rower wat buite die kar gestaan het aangespreek.

“Ek het gevra ‘What the *#^@ are you doing here, I am going to take a photo. Die volgende oomblik toe rig een van die rowers sy vuurwapen op my.”

Laetitia het gesê tyd het vir haar stilgestaan en al wat sy kon doen was om op Luis en Alison te skree om te hardloop.


Een van die rowers op ’n sekuriteitskamera afgeneem. Hy was een van die insittendes van die blou BMW.

“Die rower het die vuurwapen laat sak en ek het agteruit begin loop. Die bestuurder van die BMW het uitgeklim en geskree ‘F*$& that kill the b*@^#. Nog ’n rower het uitgeklim en toe skiet hulle.”

Toe Laetitia afbuk het ’n koeël reg agter haar in ’n muur vasgeslaan.
Gebukkend het sy teruggehardloop terwyl die rowers nog twee skote afgevuur het.
Daar waar Laetitia afgebuk het, het ’n koeël reg agter haar in die muur vasgeslaan.

“God het Sy hand oor my gehou. Dit was nie my tyd nie. Dit was letterlik ’n sekonde tussen lewe en dood.”

Luis het gesê toe alles gebeur was dit asof ’n onsigbare hand hom grond toe gedruk het.

“Toe ek en Alison in ons erf is het ek agter toe gekyk en gesien hoe Tish gebukkend terug hardloop. Alles was doodstil net die geluid van die koeëls kon gehoor word,” het Luis vertel.

Die rowers het in die kar geklim en weggejaag.

Me. Barbara Ball by wie se huis die rowers ingebreek het, het gesê Laetitia is een van die dapperste vroue wat sy ken. Hulle was by ‘n troue toe die voorval plaasgevind het.
Sy het gesê dit is die tweede keer dat hulle besteel is.


Een van die rowers wat die afgelope naweek amok gemaak het in Ben Fleur.

“In 2015 het ons in Uitbreiding 8 gebly. Die diewe het alles gesteel. Ek het nie eers juwele oor nie. So daar was nie baie vir hulle om die keer te steel nie. Hulle het deur al ons goed gegaan en selfs die matrasse opgelig. Hierdie is aardse goed. Ek is net dankbaar dat Laetitia, Luis en Alison nie seergekry het nie.”

Die volgende dag, Sondag 30 April het die bende in die BMW weer toegeslaan.
Mnr. Jacques Bruyns het gesê hulle was gelukkig nie by die huis toe daar ingebreek is nie. Die gesin was op vakansie.

“Die BMW het voor my hek gestop, die mans het die hekmotor se slot gebreek, my skuifhek oopgestoot, die voordeur oopgebreek en ingegaan. Binne ’n paar sekondes het hulle twee TV’s en ’n Playstation gesteel. Hulle het ook twee van die sekuriteitskameras in my erf afgebreek.”

Mnr. Wesley Fouche , voorsitter van die area se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het gesê hulle is baie paraat in hul area.

“Ons ry dag- en nagpatrollies. Ons lede is op die uitkyk vir die BMW. Ons vra dat inwoners by ons inskakel en betrokke raak by die GPF.”

Die GPF se volgende vergadering is op 10 Mei om 18:00. Inwoners kan Wesley skakel om die vergaderplek te bevestig: 064 118 3174.

Polisiewoordvoerder, sers. David Ratau het gevra dat inwoners baie versigtig moet wees omdat die verdagtes gewapen is.

As jy die verdagte blou BMW opmerk skakel dadelik die polisie 10111 of 013 655 5051/ 013 655 5052.

LEES OOK:

Vulstasie-bende roof weer

BMW bende teiken Ben Fleur

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version