Inbrake vier hoogty

Sy het gesê sy het haar huis gesluit voor sy uitgegaan het en toe sy terugkeer was die diefwering voor haar venster oopgebuig

Die stad het die afgelope Paasnaweek gebuk gegaan onder ’n plaag inbrake.

Mnr. Mark Bekker (62) was een van die ongelukkiges wat deurgeloop het.

Bekker het gesê hy was Vrydag 14 April omstreeks 20:00 in sy studeerkamer besig toe hy iets hoor breek.

Toe hy in die eetkamer kom om te gaan kyk toe loop hy homself vas in ’n man met ’n balaklawa aan.

“Hy het ’n koevoet in sy hand gehad. Waarop hy nie gereken het nie was my panga wat ek byderhand gehad het. Toe die man die panga sien, hardloop hy weg net met my Nokia selfoon,” het Bekker vertel.

Bekker het gesê dit is nie eerste keer dat die man in sy huis ingebreek het nie. Hy is seker dit is dieselfde man wat voorheen ingebreek het.

“Hulle teiken ons enkellopendes. Ons moet meer paraat wees,” het Bekker gesê.

Me. Popina Morewane is seker iemand wat naby haar bly het in haar huis ingebreek.

Sy het gesê sy het haar huis gesluit voor sy uitgegaan het en toe sy terugkeer was die diefwering voor haar venster oopgebuig.

“Hulle het ’n plasma televisie, vier komberse, DVD’s en ’n klanksisteem gesteel,” het sy gesê.

Wat haar bekommer is dat nog voor sy die volgende oggend die saak by die polisie aangemeld het, het haar bure reeds geweet daar is by haar ingebreek.

“Ek het niemand vertel nie. Dis net snaaks dat die bure nou almal weet. Wie behalwe ek en die verdagtes sou weet daar is ingebreek,” het sy gevra.

Me Morewane bly in Klarinet Uitb 8.

Die Human-gesin was op vakansie toe daar by hul huis in Reynorif ingebreek is.
Daar is reeds sewe keer by mnr. Lorus Coetzee se huis in Woltemadestraat ingebreek. Hy het weer Saterdag 15 April ’n statistiek geword.

Twee van sy televisies, ’n skootrekenaar en juwele is gesteel.

“Ek is so moeg vir inbrake. Sodra jy opbou steel iemand van jou,” het hy moedeloos gesê.

In die vroeë oggendure van Saterdag 15 April is daar in ’n huis in Uitbreiding 8 ingebreek.

Me. Aletta van der Merwe het gesê net haar ma se meubels, ’n paar bokse en ’n tas was nog in die huis ten tye van die inbraak omdat hulle die afgelope naweek uitgetrek het.

“Ons gaan my ma se goedjies die naweek trek. Ek sit met die huis se sleutel in my hande en sou dit die naweek aan die eienaars teruggee,” het me. Van der Merwe gesê.

Die diewe het die agterste sekuriteitshek beskadig toe hulle inbreek, maar die alarm in die huis het hulle afgeskrik.

Me. Sarah Sutteridge het foto’s op sosiale media geplaas en gevra dat die publiek op die uitkyk moet wees vir onder andere fietse wat ook op dieselfde dag by hulle gesteel is. Diewe het ook weggekom met skootrekenaars, televisies, sonbrille, klere, juwele en kos.

Me. Sutteridge het gesê die inligting op die skootrekenaars is vir haar van uiterste belang.

“Die fietse is ook baie duur. Ek doen ’n beroep op die publiek om my te kontak as iemand probeer om hierdie items aan hulle te verkoop. Ek kan gekontak word op 083 667 7586.”

Thembeka Trading het ook prooi geword van diefstal.

Daar is Saterdag 15 April by die besigheid op die hoek van OR Tambo- en Gordonstraat, ingebreek.

“Diewe het die venster gebreek in hul poging om in te kom,” het me. Susara Herbst, ’n werknemer van die besigheid, gesê.

“’n Jaar terug is by my ingebreek en oor die naweek weer,” het mnr. Joseph Mdluli van Tasbetpark gesê.

Hy het gesê die sekuriteitsmaatskappy het hom Saterdag 15 April om 02;00 gebel en gesê hulle het ’n alarm ontvang. Toe hy by die huis kom was die eetkamervenster gebreek en sy televisie skoonveld.

’n Gesin wat op vakansie in die Kaap is se grootste nagmerrie is ook bewaarheid toe daar by hulle huis in Reynorif ingebreek is.

“Ek bly sommer hier in die Kaap. Ons is nog nie seker wat alles gesteel is nie, maar as ek na die foto’s kyk wat my ma gestuur het is die televisies en ook my vrou se juwele weg.”

Mnr. Dudley Human het ’n jaar terug die koerant gehaal toe diewe sy baksteenmuur baksteen vir baksteen afgebreek het in ’n poging om in te breek.

Hy is nie seker wat die diewe hulself nog toegeëien het nie.

LEES OOK:

Soveelste inbraak by besigheid

Inbraak kos duisende

Exit mobile version