Nege vulstasie-winkels in ’n maand beroof

Die toename in vulstasie rooftogte die hoogte in skiet, veral in die SBG

Nog twee vulstasie-winkels is die afgelope week beroof, wat die getal rooftogte nou op nege vir die maand te staan bring. Woensdag 5 April het drie gewapende mans om 21:00 by ’n bekende vulstasie se gerieflikheidswinkel in Uitbreiding 8 ingestap en die kassiere met ’n vuurwapen aangehou, terwyl hulle kontant geëis het.

“Dis nie die eerste keer dat hierdie rowers toesak op ’n besigheid nie. Hulle het net te gemaklik gelyk,” het die bestuurder van die vulstasie gesê.

Volgens haar was dit die derde rooftog in vier maande, “hulle het ons beroof in Januarie, Maart en nou in April. Darem ’n maand ruskans gegee,” het sy moedeloos gesê.

Daar is verder beweer dat die sekuriteitswag net enkele meters van die vulstasie van sy vuurwapen beroof is en dat die drie verdagtes toe glo met sy vuurwapen die rooftog gepleeg het.

“Daar het drie verdagtes voor my verskyn toe ek weer sien was daar ’n gewapende man langs my voertuig en die ander twee verdagtes het agter na my voertuig toe geloop. Dis toe hul my dreig om my vuurwapen aan hul te oorhandig,” het die sekuriteitswag gesê.

Die ander voorval het Maandag 3 April gebeur by ’n kitskos-winkel by ’n vulstasie in Tasbepark. Die vulstasie self is ook verlede jaar twee keer beroof.

WITBANK NUUS het vroeër berig dat die toename in vulstasie rooftogte die hoogte in skiet, veral in die SBG (Sentrale Besigheidsgebied) en Uitbreiding 8.

“Die booswigte roof ons vulstasie-winkels nie net nie, maar is kieskeurig as dit kom by die maak van sigarette wat hulle steel,” het ’n ander vulstasie-eienaar gesê wat twee keer in 2016 beroof is.

Die polisie het vroeër die week ’n spesiale vergadering gehou oor die toenemende rooftogte by vulstasies en vulstasie-winkels. Tydens die vergadering is opskerping van sekuriteit bespreek. Daar is tot die slotsom gekom dat vulstasies gedurende die aand en nag beroof word en eienaars is gemaan om hul handelsure gedurende hierdie tyd te heroorweeg.

Woordvoerder van Witbank Polisie, sers. David Ratau het die publiek, asook eienaars van besighede gewaarsku om paraat te wees, elke oomblik.

Al die bogenoemde sake geniet prioriteit aandag. Die publiek word gevra om enige verdagte voertuie en persone te rapporteer aan die polisie, lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) of South Africa Community Crime Watch (SACCW).

LEES OOK:

Besighede beroof, eienaars moet skadegeld opdok

Besighede beroof in eMalahleni

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version