Stryd teen smokkelkroeg steeds nie gewen

Hoare en ander inwoners van Dulcimerstraat veg al ’n stryd vir 13 jaar, om hierdie smokkelkroeg in hul straat te stop.

“Ek word gedreig en ek vrees vir die lewens van myself en my familie,” het mnr. Martin Hoare Dinsdag, 7 Maart gesê.

Hoare en ander inwoners van Dulcimerstraat veg al ’n stryd vir 13 jaar, om hierdie smokkelkroeg in hul straat te stop. Sedert hierdie ‘geveg’ in 2004 afgeskop het, het Hoare en ander inwoners van die straat al alles in hul vermoë probeer doen maar tot geen sukses. Hulle het ses jaar lank baklei en in 2010 het die smokkelkroeg uiteindelik opgedroog.

Min het hulle besef dat hulle ’n jaar later weer in dieselfde boot sal sit.

“Hulle was vir ’n jaar stil en het weer in 2012 begin met hul besigheid. Ek het al met meer as een persoon gepraat. Van die polisie tot die mense by die drankraad het my al probeer help. Ons het dit reg gekry om die kroeg toe te maak, maar niks skrik hulle af nie. Die vrou was al in hegtenis geneem, meer as een keer. Sy hou net aan. Ons het kort-kort die polisie hier om hulle stil te maak. Die mense drink hul drank in die straat of op die sypaadjie, urineer net daar waar hulle staan en het geen respek vir enigiemand in die omgewing nie,” het Hoare vertel.

Verder het hy gesê dat hy vrees vir sy lewe aangesien hy konstante dreigemente ontvang van ‘kliënte’ van die kroeg wat aangevat word deur inwoners van die area. Mnr. Maroti Ramaube wat twee huise van die kroeg af woon, sê dat sy bure ook in vuur en vlam is oor die situasie.

“Hulle het kinders en veiligheid in ons area is nie ’n opsie nie. Jy weet nooit wanneer iemand jou vrou of kinders gaan verkrag as hulle dronk is nie of wanneer iemand buite toe gaan en iemand sien urineer sonder skaamte,” het Ramaube gesê.

Hy het ook bygevoeg dat meeste mense nie welaf is nie, en almal moet ’n lewe maak. Maar dit moet nie tot die nadeel van ander gedoen word nie.

Inwoners is ook ongelukkig oor die vlak van geraas waarna hulle moet luister. “As daar sokkerwedstryde aan is op ’n Saterdag, hoor ons alles. Van die sokkertelling tot die kommentaar van die wedstryd. Mens kan nie so lewe nie,” het Ramaube ten slotte gesê.

Geen duidelikheid rakende die smokkelkroeg se dranklisensie kon teen druktyd vasgestel word nie. Daar is ook tot dusver geen duidelikheid of daar wel ’n wettige dranklisensie is nie.

LEES OOK:

Residents worried about illegal shebeen

Africa Check: South Africans drink the most in Africa

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version