CrimeNews

Vermeende kapers skiet op polisie

“Ons buurman het ’n kans gekry om weg te hardloop voor die mans in die Golf 7 geklim het, maar ek en my vriend was nie so gelukkig nie."

“Ons was in ons voertuig toe ons drie mans met gewere sien,” het me. Zinhle Moriri vertel.

Dit was op Saterdag, 25 Februarie toe hulle by ’n T-aansluiting in Tasbetpark stilgehou het om hul buurman af te laai. Moriri het vertel hoe drie mans in die voertuig geklim het en vir hulle gesê het om na die vulstasie te ry in Tasbetpark.

“Ons buurman het ’n kans gekry om weg te hardloop voor die mans in die Golf 7 geklim het, maar ek en my vriend was nie so gelukkig nie. Ons het saam met hulle tot by die vulstasie gery waar daar ander verdagtes gewag het. Hulle het ons al die pad Kromdraai toe gevat, en een van die verdagtes het bestuur. Hulle het konstant gevra wie die eienaar van die voertuig is, en waar hy is. Ons het gesê dit was my buurman se voertuig en hy is nie hier nie,” het Moriri verder vertel.

Sy het ook vertel dat die verdagtes aan haar en haar vriend gesê het dat hulle niks kan doen nie, want as die eienaar van die voertuig nie daar is nie, gaan hy natuurlik die polisie in kennis stel dat sy voertuig weg is.

“Hulle het ook gevra vir ons kontant, selfone en bankkaarte en hulle het ons ongeveer drie ure by Kromdraai gehou. Een van die verdagtes het ons uiteindelik laat gaan,” het Moriri ook gesê.

Sy het bygevoeg dat die verdagte haar en haar vriend laat gaan het en hulle het gehardloop, tot ’n minibus taxi hul opgelaai het. Die bestuurder het hulle na Witbank Polisiestasie geneem. Sy het ook bevestig dat niemand in die voorval beseer was nie.

Volgens inligting wat ontvang is, was die insittendes van dieselfde grys Golf 7 later in ’n skietery met die snelwegpatrollie en honde-eenheid betrokke.

Kapt. Eddie Hall, mediawoordvoerder van Witbank Polisie het gesê dat die polisie ’n uitkyk-sein gegee het aan omliggende polisiestasies, om hul areas dop te hou vir hierdie voertuig.

“Die Verena Polisie en die honde-eenheid van Middelburg het die Verena-area patrolleer toe die voertuig verby hulle gery het. Daar het die polisie en verdagtes op mekaar geskiet, en die verdagtes het die voertuig net in ’n bos gelos en is te voet daar weg. Daar is nog geen arrestasies gemaak in hierdie verband nie,” het kapt. Hall gesê.

Hy het wel bevestig dat dit dieselfde voertuig was wat teruggekry is.

LEES OOK:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/60299/kyk-vir-my-gesig-en-ek-skiet-jou/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/47580/met-mes-gedreig-toe-skiet-hy/

Check Also
Close
Back to top button