Huisslang toe al die tyd swart mamba

"Toe hy sy bek oopmaak toe weet ek ons het nou groot moeilikheid. Hierdie was ’n swart mamba,”

Die meeste slange is vreesaanjaend en vir die gewone man op die straat is dit ’n reptiel wat jy nie sommer naby mee wil kennis maak nie.

Die ironie is dat slange ook nie wil stop en met ons ’n geselsie aanknoop nie. Oor die algemeen is slange baie sku en sal eerder probeer wegkruip alvorens dit nader wil kennis maak.

Mnr. Phillip du Plessis, slangkenner van Legacy Ambulansdienste het gou agtergekom dat wat die mense gesê het dalk ’n bruin huisslang kon wees op die einde een van die giftigste slange in ons land is.

Phillip was uitgeroep na Rotterdamstraat waar ’n slang omtrent die huismense op hol gehad het.
Die slang het sommer sy intrek in die naaste kartonboks geneem.

“Met ons aankoms by die huis het een van die tannies sommer die deksel van die kartonboks opgelig om ons te wys waar die onwelkome gas is. Omdat ek nie vooraf weet met watter slang ek te doen kry nie, tree ek altyd op asof dit die gevaarlikste slang is. Toe hy sy bek oopmaak toe weet ek ons het nou groot moeilikheid. Hierdie was ’n swart mamba,” het Phillip vertel.

Mambas sal eerder konflik vermy tot dit regtig in ’n hoek vasgedruk word.

“Die outjie het sowaar probeer wegkruip. Ek het eers almal om my gevra om ’n hele ent agter my te gaan staan net ingeval hy kwaad word en aanval en toe probeer om hom met die hak in die hoek te probeer vasdruk. Maar in ’n oogwink toe seil die meneer uit en gaan kruip op die stoep in ’n rankplant weg.”

Phillip het gesê die gevaarliggies het begin flikker toe die mamba sy bek oopmaak om te wys hy is gevaarlik, toe hy sien Phillip retireer nie het hy sy lyf opgelig en swaai bewegings begin uitvoer.

Die slang was teen die tyd seker al moeg vir die speletjie en het toe in ’n hoek langs die rankplant gaan wegkruip. Phillip het sy kans waargeneem en ’n pyp voor die slang geplaas en oombliklik het hy daarin gekruip.

“Dit het so vinnig gebeur, ek het nie geweet of hy langs die pyp of in die pyp was nie. Ek het baie seker gemaak hy was nie weer in die plant voor ek die pyp opgetel het nie.”

Swart mambas kom baie selde hier voor, Phillip is van mening hy het ’n saamrygeleentheid saam met een van die trokke van Mosambiek of die Laeveld tot hier gekry. Die mamba is in ’n natuurreservaat vrygelaat.

Die slang met die grootste of mees gevreesde reputasie in Afrika is die swart mamba. Die slang is baie senuweeagtig en kom aggressief voor wanneer hy bedreig of vasgekeer voel, een van die redes waarom baie dink hy is van geaardheid aggressief, maar sy eerste keuse is steeds om eerder na veiligheid te probeer wegseil as hy kan.

‘n Swart mamba kan sy kop ongeveer 40% van sy totale lengte van die grond af optel hoofsaaklik as hy van die grond af weer gou in ‘n boom wil kom. Die gemiddelde lengte van ‘n volwasse mamba is tussen 2.4 tot 3.5m. Hierdie kuiergas was tussen 1.5 en 2m lank. Hy is wel die vinnigste slang en kan tot 20 km per uur seil vir kort afstande, hoofsaaklik om te vlug.

Indien ‘n swart mamba ernstig bedreig word en vasgekeer voel kan hy sy prooi in ‘n oogwink tot soveel as 12 keer pik. Hy is wel ook een van die wêreld se giftigste slange, sonder behandeling kan die dood in sommige gevalle binne 30 minute intree. Die swart mamba se naam kom van die kleur aan die binnekant van sy mond wat ink swart is en nie van die kleur van sy vel nie, die kan wissel van grysgroen, grysbruin na liggrys.


Henlu du Plessis (ambulansman Legacy Emergency Specialists) en Phillip du Plessis (paramedikus Legacy Emergency Specialists) hou die pyp vas waarin die swart mamba homself tuisgemaak het.

’n Swart mamba het neurotoksiese gif en as hy jou pik val sy gif jou sentrale senustelsel aan en dit begin om beweging aan te tas. Die volgende simptoom is dat jy gaan sukkel om asem te haal en jou sluk en spraak gaan ook aangetas word. Verlamming tree in en jou hart sal onreëlmatig begin klop. Jy sal begin sweet en ’n oormaat speekselafskeiding hê.

Phillip se raad is dat as jy ’n slang gewaar om nie te naby daaraan te gaan nie. Probeer al sy kenmerke onthou en as jy ’n selfoon het, zoem in en neem ’n foto. Skakel dadelik Legacy Ambulansdienste se noodnommer sodat Phillip self die slang kan gaan vang.

Legacy se nommer is 061 996 0911.

LEES OOK:
Ssssssslange onwelkome gaste
Seldsame slang kom wys oë

Exit mobile version