Selfoon is nie jou lewe werd nie

“Hy het reguit na my gekyk en gesê, ‘You white fu***** p***’, omgedraai en kalm weggestap.”

Soos seisoene verbygaan vorm daar rofies op die eina wat die lewe jou toedien. Dan gebeur daar iets wat die rofie afruk en die seer borrel onbeheers uit met emosies waaroor jy geen beheer het nie.

Met rooi oë waaruit trane bly stroom het Chantelle de Necker probeer om die warboel van emosies in haar te liasseer en sin te mak uit die harde werklikheid van die wreedheid van die mens.

Presies twee jaar nadat sy by haar huis aangeval en 22 keer met ‘n mes gesteek is, het De Necker weer ’n saaknommer by Witbank Polisie. Dié keer is sy met ’n vuurwapen aangehou en dit vir ’n selfoon.

Woensdag 18 Januarie omstreeks 07:30 is sy voor haar vriendin se huis in Eugene Maraisstraat beroof.

“Nadat ek my kinders by die skool afgelaai het, het ek gou by my vriendin gestop om vir haar ’n boodskap te gee. Ek het voor haar huis gestop en die toeter gedruk. Sy het uitgekom en gou teruggehardloop om ’n pen te kry om die selfoonnommer neer te skryf van die mense van wie ek die boodskap moes oordra. Ek was nog besig om die epos op my foon te soek toe ’n man skielik van nêrens af kom. Ek dink hy het uit die wolke uitgeval want hy was net skielik daar,” het sy beskryf.

De Necker het eers gedink dis iemand wat haar wil skrik maak, maar toe sy haar kop draai toe voel sy die koue loop van die vuurwapen teen haar kop.


Chantelle de Necker (36) herleef die trauma van ’n aanval waartydens sy 22 keer met ’n mes gesteek is.

“Ek wou nie my foon vir hom gee nie. Alles was doodstil en skielik het die kliek van die vuurwapen die stilte verkrag. Ek het net daar besef my selfoon is nie my lewe werd nie en dit vir hom gegee.”

Die onbekende man het nog ’n paar sekondes rondgestaan en dis toe De Necker besef haar karsleutel is nog in die aansitter en haar man se beursie is ook in die kar.

“Hy het reguit na my gekyk en gesê, ‘You white fu***** p***’, omgedraai en kalm weggestap.”

Toe De Necker se vriendin uitkom het sy begin skree en na die man gewys wat nog steeds rustig weggestap het. Toe hulle hom agternasit het hy tussen die huise verdwyn.

“Pleks hy my net geskiet het. Ek kan nie meer nie. Tydens die roof het ek die aanval op 17 Januarie 2015 herleef. Ek het die boosheid geruik. Nou moet ek van vooraf ‘gesond’ word. Daar is net geen antwoorde op my vrae nie, geen verduideliking hoekom God toelaat dat dit met my gebeur nie.”

In nog ’n geval is die 34-jarige Phumeza Rode om 19:00 op 8 Januarie ook van haar selfoon beroof. Sy en ’n vriendin het in Bothastraat afgestap toe twee onbekende mans haar voorgekeer en met ’n vuurwapen gedreig het. Hulle het haar selfoon gevat en op die vlug geslaan.

“Ek was verskriklik bang. As iemand jou dreig met ’n vuurwapen gee jy alles wat hulle vra. My lewe is meer werd as ’n selfoon,” het Rode gesê.

LEES OOK:
Mes-aanval in nagklub
Met mes gedreig, toe skiet hy

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version