‘Alles is vernietig’

"Dit is uit God se genade dat ons nie in die huis was nie, want my kinders sou dit nie gemaak het nie,”

Die Opperman-gesin tel steeds die stukke op na hul huis in ’n brand vernietig is.

Op Donderdag 5 Januarie het ’n tweede brand by hul huis alles in sy pad vernietig. Op Woensdag 11 Januarie het die assessors van die versekering na die huis gaan kyk, en bevestig dat niks in die huis gered kan word nie.

“Die dak in die kinders se kamer het ingestort en die dakteëls is op die kinders se beddens. Alles in die huis het skade gekry,” het me. Janie Opperman verlede week gesê.

Verder het Janie en haar man, Kevin, nou meer duidelikheid oor die oorsaak van die verwoestende brand.


Die Opperman’s se sitkamer waar die brand moontlik ontstaan het. Dit het op Donderdag 5 Januarie in Duvhapark ontstaan.

“Soos ons kan aflei, lyk dit of beide brande by die noodlig ontstaan het wat op die gordynkap in die sitkamer was. Die eerste brand het ontstaan as gevolg van ’n kortsluiting op die noodlig se draad. Dit het die gordyne laat vlam vat en diè het op die bank geval, wat ook gebrand het. Die tweede brand het glo ontstaan as gevolg van dieselfde lig se batterypak,” het Janie Dinsdag aan WITBANK NUUS vertel.

Die eerste brand het op 30 Desember ontstaan maar Kevin kon die vlamme onder beheer kry, voor teveel skade aan die huis aangerig is.

Janie het ook Dinsdag vertel dat die assessor gesê het, hulle kan hulself voorberei vir ongeveer nog ’n jaar voor hulle in die huis sal kan terugtrek.

“Op hierdie stadium kan ons niks doen nie, die versekering moet nou kostes bereken en ook mense kry om die skade te herstel. Soos ons kan verstaan, gaan hulle die hele dak moet vervang, insluitend die dakkappe. Ook die eerste drie of vier rye bakstene onder die dak, aangesien dit skade gekry het. Al die mure is nog reg, behalwe die muur tussen die sitkamer en werkkamer, daardie muur het ook skade gekry so dit sal oorgebou moet word. Die houtvloere, kaste, basies alles wat hout was sal vervang moet word. Die elektriese ware het ook skade opgedoen, en die res met die brandweer se water en die reën wat ons gehad het. Ons klere is ondrabaar, aangesien ons nie weer die reuk en roet uit dit gaan kry nie,” was Janie se woorde.

Janie het haar dankbaarheid aan die gemeenskap oorgedra, waarin sy elke persoon bedank wat hul gehelp het. Hulle het byna alles wat hulle nodig het, van die publiek en familie ontvang.


Die werkkamer wat aan die sitkamer geheg is, met al die Opperman’s se belangrike dokumente, is ook vernietig. Dit het gevolg na ’n brand by hul huis op Donderdag 5 Januarie in Duvhapark.

“Ons het ’n eetkamerstel, sitkamerstel, yskas en meeste van die groot goed gekry, of vir goedkoop aangekoop. Ons wil dankie sê aan ons familie wat help in hierdie tyd. Dankie vir julle opofferings en die bystand deur alles. Ons wil ook die gemeenskap hartlik bedank wat hul harte oopgemaak het teenoor ons, met alles wat ons nodig het. ’n Mens besef nie wat jy het, tot jy alles verloor het nie. Ons weet die aardse goed kan vervang word en ons as gesin is baie dankbaar dat ons niks oorgekom het nie. As daar een goeie ding hieruit gebeur het, is dat ons mekaar opnuut waardeer en dankbaar is vir dit wat ons wel het. Ons sal soos die ‘Phoenix’ uit die asse opstaan. Baie dankie aan almal wat hulp verleen het of aangebied het in hierdie tyd. Dit is wonderlik om te sien dat ons gemeenskap steeds kan saam staan,” was Janie se woorde van dankbaarheid.

Ook het Janie bygevoeg dat sy nie graag weer in die huis wil ingaan nie.

“Ek kan die skade in die huis hanteer, maar toe ek in my kinders se kamer instap en die dakteëls op hul bed sien, het dit my verskriklik gevang. Dit is uit God se genade dat ons nie in die huis was nie, want my kinders sou dit nie gemaak het nie,” het sy afgesluit.

Geen terugvoer is ontvang van die munisipaliteit na die klagte oor dienslewering van die brandweer, teen druktyd nie.

LEES OOK:
‘Mamma, ek het nog geld in my pienk varkie’
Vrou kritiek na brand haar oorval

Exit mobile version