‘Mamma, ek het nog geld in my pienk varkie’

“Ek moet vir haar verduidelik hoekom ons nie kan teruggaan nie en dit breek my hart.”

“Julle huis is aan die brand,” was die woorde waarmee mnr. Kevin Opperman wakker geruk was.

Vier jaar se herinneringe is Donderdag 5 Januarie in Duvha Park in ’n verwoestende brand vernietig.

“Ons buurman het vir Kevin wakker gebel omstreeks 04:30 en ons ingelig dat ons huis vir ’n tweede keer aan die brand is. Hierdie keer was ons immers nie so gelukkig nie, en ons het byna alles verloor. Die eerste brand was op 30 Desember, en ons het gedink ons sluit die jaar saam die ongeluk af. Min het ons geweet wat ses dae later op ons wag,” was Janie se woorde.

Sy het vertel dat hulle by haar suster in Ermelo met vakansie was, en op 30 Desember het hulle ’n oproep ontvang dat die sitkamer brand. Kevin het inderhaas huis toe gegaan en die brand is vinnig onder beheer gebring. Hulle vermoed dat dit ’n elektriese fout was wat ontstaan het by een van die noodligte in hul sitkamer.


Die Opperman’s kan getuig van gelukkiger dae in hul huis in Duvha Park. Hier is Janie en Kevin Opperman saam hul twee dogtertjies, Mianè en Melissa (foto: verskaf).

“Die eerste brand is geblus en net ’n gedeelte van die een sitkamerbank is gebrand en my seevistenk het gebars. Verder het ons nie veel skade gehad nie. Ek het die aand hier oorgebly en weer by my gesin aangesluit in Ermelo die volgende dag. Die tweede brand het ons hele huis verwoes,” het Kevin vertel.

Die vermoede bestaan wel dat die tweede brand op dieselfde manier ontstaan het as die eerste een, maar nie betyds gestop was nie. Die brand het alles in sy pad vernietig, en wat oor is van die huis is steeds onbekend, aangesien hulle nie in die huis mag ingaan nie.


Items soos belangrike dokumente is in die brand verwoes, op Donderdag 5 Januarie, by Janie en Kevin Opperman se huis in Duvha Park.

“Die brandweer se diens was pateties om die minste te sê. Die bure het hulle die hele oggend probeer bel, want die een buurvrou was bang vir haar bloekombome aangesien dit byna teenaan ons muur is. Hulle het uiteindelik die brandweer in die hande gekry en ons het net na hulle by die huis aangekom. Ons vermoed die vuur het al omstreeks net na 02:00 die oggend begin. Na drie watertrokke het die brandweer begin om die vlamme te blus. Met die eerste trok was daar net ’n helse slag en die water het onder begin uitloop. Die tweede trok het nie water gehad vir die waterpomp nie en die derde trok se waterpomp het nie gewerk nie. Aangesien daar nie water in die area was nie, het die brandkraan nie gewerk nie. Hulle het gaan diesel haal en die blusproses kon uiteindelik begin. Dit het gevolg na die sekuriteitsmaatskappy die brandweer moes gaan haal, aangesien hulle nie die huis gekry het nie,” was Janie se woorde.

Sy het ook vertel dat sy die een brandweerman gevra het wat die skade in die kamers is, waarop die antwoord was dat hulle nie weet nie en te bang is om in te gaan.

“Hulle het eers nie harde hoede aangehad nie, maar na die dak amper op hulle ingegee het, het hulle vinnig plan gemaak. Ek het ook vir een van die brandweermanne gesê om eerste in die kombuis te spuit aangesien daar gasbottels is, vir my gasstoof. Sy het gegil en weggehardloop, en iemand anders het toe die taak oorgeneem. Ons is bitter ongelukkig met die brandweer se swak diens,” het Janie gesê.


Die brand van Donderdag 5 Januarie het vermoedelik in die sitkamer ontstaan, en daar is nie veel oor van hierdie vertrek nie. Dit was by Janie en Kevin Opperman se huis in Duvha Park.

Janie en Kevin het vertel dat hulle gelukkig ’n heenkome het, by Kevin se ouers se plot op Naauwpoort.

“Ons bly in ’n woonstel hier en maak stuk-stuk goed bymekaar. Ons wag vir die versekering om na die huis te kom kyk en van daar af sal ons kyk wat te redde is. Op hierdie stadium koop ons tweedehandse meubels en maak ons goed bymekaar om weer huis ‘op te sit’. Ons kan net die Here dank dat ons nie in die huis was nie,” het Janie verder gesê.

Janie het met nabye trane vertel dat hul oudste dogter, Mianè praat van die nuwe huis en die gebrande huis.

“Ek moet vir haar verduidelik hoekom ons nie kan teruggaan nie en dit breek my hart. Sy het my vertel dat sy gelukkig nog ’n pienk spaarvarkie het met geld in waarmee sy nuwe goed kan koop. Ek moet nog vir haar sê dat haar spaarvarkie ook heel waarskynlik vernietig is,” het Janie gesê.

Die gesin wil graag vir Ruaan en Reta Britz bedank, wat hul op hoogte gehou en almal in die straat wat die brandweer konstant probeer bel het. Ook aan die familie en vriende wat hul bygestaan en gehelp het en die gemeenskap met hul groot harte wat gee wat hulle kan.

“Ons waardeer elke gebaar opreg en is uit ons harte dankbaar vir elkeen se hulp en bystand,” het Janie gesê.

Aangesien die gesin gekamp het, het hulle genoeg klere en die kinders het speelgoed wat hulle saamgevat het.

“My vrou pak vir maande as ons vir ’n week weggaan, so ons het klere en blyplek. Dis die belangrikste,” was Kevin se laaste woorde.

Die klagtes was aangegee by die munisipaliteit, maar geen terugvoer van mnr. Theo van Vuuren, Munisipale Bestuurder of mnr. Lebohang Mofokeng, woordvoerder van die plaaslike munisipaliteit was ontvang teen druktyd nie.

LEES OOK:
Leë huis brand
Vrou kritiek na brand haar oorval

Exit mobile version