Bejaardes aangeval

"Toe Suretha uit die kamer kom skree die een ‘shut-up’ en die ander een ‘shoot her’."

“Die Here het ’n laer van engele om ons geplaas. Sy genade het ons beskerm. Geloof is ons enigste wapen.”

Daar word daagliks gelees hoe weerlose bejaardes geteiken word. So het die 76-jarige me. Ella van der Westhuizen, haar 83-jarige man, Nico en hul 50-jarige dogter Suretha ook deel van die misdaadstatistiek geword wat ’n wrang smaak in die mond los.


Mnr. Nico van der Westhuizen is met ’n houtkruis in die arm gesteek. Hy moes steke kry om sy wonde te heg.

Twee mans het Woensdag 9 November omstreeks 21:00 toegang tot die familie se huis in Claredonstraat gekry toe hulle deur die huis se dak ingekom het. Hulle het die dakteëls geskuif en deur die plafon in die sitkamer gekom.

“Ek het ’n kap gehoor en gedink dis Suretha, maar sy was besig om ’n CD te luister. Dis toe ek dog dis Oom Nico wat geval het en probeer het om my aandag te trek,” het Tannie Ella vertel.


Me. Ella (76) en mnr. Nico van der Westhuizen (83) is nou meer paraat as ooit.

Maar Oom Nico het op die bed gelê. Met die wat Tannie Ella toe om die gangmuur na die sitkamer toe beweeg om te kyk waar die gekap vandaan kom, loop sy haarself trompop in die twee onwelkome gaste vas.

“Hulle het my gestamp dat ek doer trek. Toe Suretha uit die kamer kom skree die een ‘shut-up’ en die ander een ‘shoot her’. Dit het gelyk of hulle iets soos ’n lap in haar mond wou druk. Oom Nico het die geraas gehoor en sonder sy kierie teen 100-myl per uur die gang afgestorm. Hy het geweet iets is fout toe hy sien ek lê op die grond,” het Tannie Ella gesê.

Een van die mans het ’n houtkruis van die muur afgehaal en na Oom Nico gekap.

“Hy het aangehou kap terwyl die ander een ’n klokkie van die muur afgehaal en Oom Nico daarmee geslaan het. Daar was net bloed oral.”

Tannie Ella het gesê skielik het ’n vrede en kalmte oor haar gekom en sy het gehoor hoe Suretha sê,

“In the name of the Lord please leave us and go”.


Die gat waardeur die twee verdagtes Woensdag 9 November geklim het.

“Daar was ’n skielike stilte en dit was asof die twee mans teen ’n soliede muur vasgehardloop het. Hulle het omgedraai en deur dieselfde opening waar hulle ingekom het, uitgeskarrel.”

Nadat hulle die bure laat weet het was hul sekuriteitsmaatskappy en die hele buurt, asook die polisie dadelik op die toneel.

Oom Nico is dadelik hospitaal toe geneem waar hy steke gekry het.
In hul haas om weg te kom het die verdagtes hulle sak in die dak vergeet.

Daarin het die polisie onder andere die twee se identiteitsboekies en ook messe gevind.
Hierdie huis is al die afgelope 52 jaar die familie se tuiste. Hulle het reeds hul sekuriteit opgeskerp omdat daar gereeld in die buurt ingebreek word.

“Die sekuriteitsmaatskappy het al die passiewe infrarooi ontvangers (sekuriteitsogies) in die huis skoongemaak en nagegaan en ook vir Tannie Ella ’n paniekknoppie gegee wat sy heeldag by haar dra. Ons sit ook die week lemmetjiesdraad aan die agterkant van die erf op, want die boewe spring gemaklik oor hoë mure,” het Oom Nico gesê.

Tannie Ella en Oom Nico het gesê hulle is nou meer paraat as ooit.

Die familie het van die geleentheid gebruik gemaak om elkeen te bedank wat hulle bygestaan het, vir die buurtwag wat elke aand patrollie verby hul huis ry, vir die sekuriteitsmaatskappy wat saans hul voertuig voor hul erf stop en vir elke gebed, oproep, boodskap en ete wat hulle ontvang het.

Daar is nog geen arrestasies gemaak nie.

LEES OOK:
Koop van houthuise ontaard in aanranding
Operasie nodig na aanranding

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version