‘Die ongeluk het toe gebeur’

“Ek kan nie ophou dink aan die kinders wat ek raakgery het nie, en ek wil net seker maak dat hulle ‘okay’ is. Ek voel vreeslik sleg oor die ongeluk en ek was bang,”

Na meer as een oproep na die verkeersdepartement het die verwagte ongeluk by Laerskool Taalfees nou gebeur.

Op Vrydag 4 November is ’n kind van hierdie skool raakgery toe ’n rooi Polo na bewering oor ’n rooi verkeerslig gery het.

“Die verkeerslig werk 80% van die tyd nie en ons het al baie oproepe gemaak. Ons het geweet ’n ongeluk gaan gebeur. Die betrokke kinders was nie verkeerd nie. Die verkeerslig was groen vir hulle en hulle het oorgeloop. Dit was ’n blatante tref-en-trap toe die voertuig hulle raakry. Die bestuurder het op hulle geskreeu en toe weggjaag,” het me. Marlize Jansen van Vuuren van Laerskool Taalfees, Dinsdag, 8 November gesê.

Volgens haar het Siyanda Tswanya (Gr.3) en nog ’n kind die pad oorgesteek, oor ’n groen verkeerslig toe die Polo hulle raakry. Sy arm is gebreek en hy het Saterdag ’n operasie gehad. Hy het ook steke in die gesig gekry.

“Toevallig, toe die ongeluk plaasgevind het, was daar ’n pappa van ’n kind by die skool en hy is in die polisie. Hy het dadelik die Polo agternagesit en die mans in die onderdorp vasgetrek. Hy het hulle gedwing om polisie toe te gaan en die saak te gaan aanmeld.

“Hierdie verkeerslig is ’n baie groot probleem by die skool en iets sal daaraan gedoen moet word. Dit is die veiligheid van ons kinders,” het Jansen van Vuuren gesê.

Volgens die bestuurder van die voertuig, wat anoniem gehou word, het hy vertel dat hy ’n groen verkeerslig oorgesteek het en twee pragtige kinders raakgery.

“Ek het weggejaag, want ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek weet steeds nie wat om te doen nie. Die polisie het my agternagesit nadat ek weggejaag het, en ek het belowe dat ek polisie toe sou gegaan het, sodra ek oor die skok was,” het hy gesê.

Hy het ook gesê dat hy verskoning wil vra oor die ongeluk, maar het geen kontakte om dit te doen nie.

“Ek kan nie ophou dink aan die kinders wat ek raakgery het nie, en ek wil net seker maak dat hulle ‘okay’ is. Ek voel vreeslik sleg oor die ongeluk en ek was bang,” was die bestuurder se woorde.

Mnr. Theo van Vuuren, Munisipale Bestuurder is gekontak vir kommentaar, en hy het gesê dat hy nie bewus was van die voorval nie. Hy het ook gesê dat dit ondersoek sal word en dat die nodige direktoraat gekontak sal word rakende hierdie saak.

Verder, het me. Martie Swart, ’n ouer van die skool, WITBANK NUUS gekontak rakend hierdie saak.

“My dogter doen skolierpatrollie en ek was daar ten tye van die insident, maar het nie betrokke geraak nie, aangesien daar reeds so baie mense by die kind was. Die verkeerslig is ’n probleem en drie skole gebruik daardie oorgang. Motoriste het geen ontsag vir hierdie pad en die padreëls nie,” het sy vertel.

Hulle beplan om ’n petisie op te stel waarby daar spoedhobbels aangevra sal word by die plaaslike munisipaliteit. Van Vuuren het hierop ook kommentaar gelewer dat hy nie seker is of aansoeke om spoedhobbels op te sit al deur is nie, en ook moet daar eers ondersoek word of dit wel tegnies moontlik is.

“Legacy Emergency Specialists was puik, en so ook ER24. Ek weet nie of dit vyf minute was nie, toe is hulle op die toneel en die kind is hospitaal toe geneem. Ek wil beide ambulansdienste net bedank vir hul blitsvinnige optrede,” het Jansen van Vuuren gesê.

Tswanya se ma het vlugtig genoem dat haar seun vorder en dat hy ’n operasie moes ondergaan, as gevolg van die bene wat in sy arm gebreek het.

ALSO READ:
Luané terug skool toe na hond haar byt
Morné en Stephan tuis na bootongeluk

Exit mobile version