CrimeNews

EKSKLUSIEF: ‘My ma het gevra ek moet hulle skiet as hulle slaap’

"My ma het in die kamer gekom met die pistool in haar hand. Sy het my gevra ek moet hulle skiet as hulle slaap.”

In ’n eksklusiewe onderhoud met WITBANK NUUS het die vrou wat haar ma en suster twee weke gelede doodgeskiet het, vertel wat daardie tragiese nag gebeur het.

Ester (62) en Caren (35) Burger is in die vroeë oggendure van Saterdag 20 Augustus in hul onderskeie kamers met ’n 9mm pistool doodgeskiet.

’n Amper weerloosheid het in Yvette Burger se oë weerkaats toe sy vertel van die aand vooraf en hoe die gebeure afgespeel het.

“Daar was spanning, maar daar is spanning in elke huis. Daar was maar normale spanning, elke huis het maar spanning. Party dae is net erger as ander. Daar is die laaste ruk vreeslik baklei. Dit is as gevolg van my…”

Yvette het verduidelik dat sy die afgelope drie jaar lank elke dag 09:45 gery het om CV’s in te gee in ’n poging om werk te kry. Haar pa was onder die indruk dat sy werk en sy en Caren moes elke maand R1 000 huur betaal.

“Met die ding van Highveld Steel is dit baie moeilik. Ek kon nie skuld betaal nie ek het op ITC beland. Met die slegte naam wou niemand my ’n kans gee nie omdat ek op ITC is nie.. My ma het vir my ‘ge-cover’ Alles is as gevolg van my. Ek het druk op die gesin geplaas.”

Daar was daardie aand ’n rusie omdat mnr. Lloyd Burger wou hê sy dogters moet uit die huis trek en op hul eie bene staan.

ze357-1rs
Die boodskap wat die 37-jarige Yvette Burger op Facebook gelos het nadat sy haar ma en suster in die vroeë oggendure van 20 Augustus geskiet het.

Daar is bespiegelinge dat die gesinsmoord dalk beplan kon gewees het.
Volgens Yvette het haar ma in haar kamer ingekom en vir haar gesê dat Caren die pistool wil hê, sy wil haarself skiet.

“Caren het ongelooflik baie stres. Sy was besig met studies en besig met klerkskap dit was al daai goed gewees. Ek het dit verwag, ek weet nie hoekom nie. Caren het vir my gelyk of sy redelik op breekpunt is, as jy met haar praat het sy so half gebyt aan jou. My ma het in die kamer gekom met die pistool in haar hand. Sy het my gevra ek moet hulle skiet as hulle slaap.”

Uit Yvette se weergawe blyk dit dat Caren bewus was van wat daardie nag sou gebeur.

“Sy het nog vir my gesê waar ek haar moet skiet. Ek het so gestaan…ek kannie vir jou sê wat het deur my kop gegaan nie. Julle vra vir my die ‘ultimate’ ding, ek sal dit doen, maar ek kon nie volg nie. Toe ek haar skiet toe bly sy asemhaal. Sy het nie doodgegaan nie. Ek het haar ’n tweede skoot gegee. Sy het bly asemhaal toe versmoor ek haar om seker te maak sy ly nie. Ek het dieselfde gedoen met my ma toe sy bly asemhaal. Die ergste van als my pa het nie wakker geword van die skote nie.”

Volgens Yvette het hulle almal elke aand ’n slaappil gedrink omdat hulle aan slaaploosheid gely het.
Yvette het gesê dat sy daarteen besluit het om haarself te skiet.

“Ek was net bang ek bly lewe. Ek sou nie doodgaan nie jy verstaan, ek het gesien hoe my ma en my sussie nog leef. Toe gryp ek ’n bottel brandewyn in die kombuis en die Coke. Ek het gedink as ek goed getrek is sal ek die ‘guts’ hê om dit te kan doen. Ek het almal ge-whatsapp wat ek geken het. Ek het gesê hoor hierso ek is lief vir julle, ek het basies totsiens gesê vir hulle.”

Nadat sy die boodskappe uitgestuur het, het een van haar vriendinne buurtwaglede van Del Judor laat weet en die buurtwag en die polisie is uit na die huis toe waar hulle die vrou bo-op haar ma se lewelose liggaam gekry het. Die vuurwapen was nog in haar hand vasgeklem.

In ’n grys sweetpakbroek, grys baadjie en ’n paar tekkies sonder veters het Yvette na die onderhoud gesê sy wil ’n briefie aan haar pa skryf en gevra dat die koerant dit vir hom moet gee.

In ’n netjiese handskrif het sy in drukletters vir haar pa ’n briefie geskryf,

“Pa ek is ongelooflik jammer vir alles. Ek hoop pa sal my kan vergewe. Ek is so lief vir Pappa. Ek hoop môre dat pa sterk sal bly. Ek is jammer dat ek nie daar kan wees nie, hulle sê dis beter as ek nie daar is nie.”

WITBANK NUUS het die briefie per telefoon aan mnr. Burger oorgedra.

In reaksie het mnr. Burger gesê:

“Ek probeer hard, maar dis nog te rou. Ek kannie nou na haar toe gaan nie. Sy het Esther en Caren van my af weggeruk, my vrou en my jongste dogter is dood en my oudste dogter is daarvoor verantwoordelik. Here, wat moet ek doen….”

Terwyl Yvette Maandag 29 Augustus in Witbank Landdroshof verskyn het op twee klagtes van moord het haar pa net ’n entjie verder in die NG Kerk Suid-gemeente afskeid geneem van die vrou met wie hy 37 jaar lank getroud was en sy jongste dogter.

Die saak teen Yvette is uitgestel vir sewe dae vir verdere ondersoek.

LEES OOK:
Gesinsmoord eis twee
Vrou wat ma en suster skiet vertel van nag se gebeure

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button