Gesinsmoord eis twee

“Sy het geleef nadat sy geskiet is. Haar suster het verder gegaan en haar met haar bra verwurg,”

Hande inmekaar gestrengel het mnr. Lloyd Burger al die los stukke, soos ’n legkaart, inmekaar probeer pas om sin te maak uit die gebeure van die afgelope naweek waarin sy oudste dogter haar ma en suster na bewering koelbloedig doodgeskiet het.

Die 37-jarige vrou wat na bewering verantwoordelik was vir die dubbele gesinsmoord, kon nie Maandag 22 Augustus voor die hof verskyn op die klagtes nie omdat sy steeds onder polisiebewaking in Witbank Hospitaal was nadat sy ’n oordosis pille gedrink het. Sy staar twee klagtes van moord in die gesig.

Die vrou het haar ma, Ester Burger (62) en 35-jarige suster Caren in die vroeë oggendure van 20 Augustus glo met haar ma se 9mm geskiet.


Mnr. Lloyd Burger wys na die plek waar sy 62-jarige vrou doodgeskiet is.


Die 37-jarige verdagte het glo dié pille gedrink voor sy haar bewussyn verloor en bo op haar ma se lewelose liggaam gaan lê het.

Haar pa, mnr. Lloyd Burger het gesê hy het geslaap toe die tragedie afgespeel het.
Mnr. Burger het in ’n onderhoud met WITBANK NUUS gesê hy was hard op sy twee dogters en hulle het vroeër die aand ’n rusie gehad omdat hy wou hê hulle moes uit hul ouerhuis trek en op hul eie bene staan.

“Ek en my vrou was op pensioen en ek wou ’n kleiner huis koop vir ons twee. Die twee meisiekinders het by ons gebly en net R1 000 ’n maand elk betaal vir huur. Dit het alles ingesluit, wasgoed, etes en DSTV. Hulle het ook my voertuie gebruik. Na die onderonsie het ek die rugby gekyk, ’n paar drankies, twee slaappille gedrink en gaan slaap.”

Intussen het een van die buurtwaglede van Del Judor ’n oproep ontvang van ’n vrou, wat verkies om anoniem te bly, wat gesê het haar vriendin het haar gebel en gesê sy het haar ma en sussie geskiet.


Mnr. Lloyd Burger wys na die bloed in sy 35-jarige dogter, Caren Burger se kamer. Caren is hiér geskiet, maar is nie dadelik dood nie. Daar was glo ’n struweling en sy is met haar bra verwurg.


Caren Burger (35).

Die buurtwag en polisie het na die huis gehaas en gesukkel om iemand se aandag in die huis te trek.
Na ’n rukkie het mnr. Burger, salig onbewus van die gebeure, die deur oopgemaak.

Toe die huis deursoek is, het hulle die verdagte in haar kamer gekry waar sy bo op haar ma se lewelose liggaam gelê het. Die vuurwapen was nog in haar hand vasgeklem.

Caren is in haar eie kamer gekry. Daar was tekens van ’n struweling.

“Sy het geleef nadat sy geskiet is. Haar suster het verder gegaan en haar met haar bra verwurg,” het mnr. Burger gesê terwyl hy geskok na die bloed, wat al hard geword het op die bed, gestaar het.

Die verdagte is deur paramedici op die toneel behandel en toe sy haar bewussyn herwin, het sy ’n polisieman glo gesmeek om haar dood te skiet.

Mnr. Burger het gesê hy het eers na die voorval gehoor dat die verdagte al drie jaar lank werkloos is, en hy onder die indruk was sy gaan elke oggend werk toe.

“Sy het nie gewerk nie, maar elke maand R1 000 kom gee vir haar huur. Ek weet nie waar sy elke dag was nie, ek weet ook nie waar sy geld gekry het nie. Dit maak my so seer om te weet my vrou het geweet sy werk nie, maar tog het sy dit van my weerhou.”

Hy het gesê hy huil nie, maar Maandagaand het hy ingegee.

“Ek het by die agterdeur gestaan en met die Here gepraat. Die wind het die deur toegeslaan en ek kon die staalhek nie oopkry nie. Dit was altyd so maklik om net vir Ester te roep om die deur oop te maak. My roep het in die wind weggeraak. Daar het ek gestaan en voor die Here gehuil.”

Die Burger-egpaar was 37 jaar lank getroud. Mnr. Burger het 30 jaar lank by Tweefonteinmyn gewerk waar hy ook ’n mynkaptein was. Me. Burger het skool gegee by Laerskool Tweefontein waar Caren hoofmeisie was.

Toe hulle eMalahleni toe getrek het, het die dogters hul hoërskoolloopbane by Hoërskool Reynopark voltooi. Caren was besig met haar derde graad en het by Venter en de Jager Rekenmeesters gewerk.
Mnr. Jan Adriaan Booysen het gesê Caren het in 2015 by hulle span as boekhouer aangesluit.

“Sy het gedurende die afgelope 16 maande goeie werksverhoudinge opgebou, sowel as hegte vriendskappe gesmee met haar mede kollegas. Dit is met skok en hartseer dat ons verneem het van haar skielike heengaan en hiermee betuig ons innige meegevoel met die Burger familie. Caren ons gaan jou mis,” het mnr. Booysen ten slotte gesê.

LEES OOK:
Murder suspect shoots himself
Missing person’s murder solved

Exit mobile version