Kompleks naby Springvalley verander in ‘ghettovalley’

Inbrake is vir die inwoners van eMalahleni al soos om brood te koop, alledaags. In die afgelope jaar was meer as 11 huise in een kompleks dié teiken vir boewe.

Inbrake is vir die inwoners van eMalahleni al soos om brood te koop, alledaags. In die afgelope jaar was meer as 11 huise in een kompleks dié teiken vir boewe.
Op 11 Augustus het me. Nadene Papenfus se hart yskoud geword toe haar buurvrou haar met ’n boodskap in kennis stel dat haar hek asook haar deure van haar tuiste oopstaan. “Ek het dadelik die ergste verwag want hulle het sowat ’n maand terug my arme hond vergiftig,” het Nadene gesê.

Met aankoms by haar tuiste het inwoners van die kompleks in spanne al vir haar gewag. “Ek was al vyf keer ’n teiken en is vier van die vyf keer my besittings kwyt,” het mnr. Louis Kruger, ’n inwoner van die kompleks woedend gesê.
WITBANK NUUS het in Mei berig oor die inbrake wat so toeneem in hierdie spesifieke area en kompleks.
Me. Christa Cilliers was toe die slagoffer van hierdie steel epidemie. Die boewe het heel gemaklik in haar erf ingery en gevat wat hul wou, alles onder vier minute.

“Die ergste vir my is die skade wat hulle los na hulle kom kies en keur het in my huis. As ek die pryse van slotte en sekuriteitsapparate bymekaar moet begin tel gaan dit op ’n hoër bedrag uitkom as die twee of drie televisies wat hul al weggedra het,” het Nadene omgekrap gesê.
Die eienaar van een van die kompleks se huise, mnr. Tebogo Mathe het gesê, “Ek self bly nie meer in die kompleks nie, maar verhuur my huis uit. Hierdie diewe laat my huurders by die dosyne verloor. My laaste huurders het uitgetrek so om en by drie weke terug nadat hulle ook rot en kaal besteel is vir die tweede keer.”
Die inwoners beweer dat al hierdie insidente in werksure plaasvind. “So asof die diewe ook werksure het deur die dag,” het Christa gesê.
Verder het die inwoners gesê dat hulle nie eers meer hulle tyd mors om die polisie te laat weet nie. “Ek wag nou seker al drie jaar vir die polisie om uit te kom waar daar intussen al twee keer weer by my ingebreek is,” het Petrus Botha vertel.

“Daar is net voor 10:00 die oggend by my ingebreek waar ek toe die polisie gekontak het en het darem teen 16:00 daardie middag terugvoer gekry van hulle,” het Nadene ook gesê.
Die inwoners het verder beweer dat dit al hoe makliker word vir die booswigte om in hul persoonlike spasies te kom en dat hulle self moet plan maak om dit te voorkom. “Ek spandeer elke keer net meer en meer op sekuriteitstoebehore maar tevergeefs,” het Louis moedeloos gesê.
Daar is nog geen arrestasies gemaak in verband met hierdie inbrake nie, maar die sake word ondersoek deur die polisie.

“Net een van hierdie mooi dae gaan hierdie klompie hulle self vasloop in die verkeerde erf,” het Riaan Smidt ’n sekuriteitswag ten slotte gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version