Bid vir Xavier

Die naam Xavier Joshua Fourie word oor en oor herhaal in gebede wat regoor die wêreld strek.

Die naam Xavier Joshua Fourie word oor en oor herhaal in gebede wat regoor die wêreld strek.
Xavier, wat nog nie eers ’n maand oud is nie, het ’n virus opgetel en sy niertjies is verswak.

Hy lê die afgelope drie weke in die neonataal intensiewesorgeenheid in Life Cosmos Hospitaal gekoppel aan masjiene wat vir hom asemhaal. Sy mamma, Jeannine weier om moed op te gee.


Xavier Joshua Fourie is nou al drie weke lank in die Intensiewe Sorgeenheid in Life Cosmos Hospitaal.

“Ek weet nie wat gaan gebeur nie. Ek weet net seuntjie speel nou in die hemel by Jesus. Ek pleit elke dag dat Jesus hom vir my moet terugstuur, want ek verstaan nie hoekom Hy hom net ’n week lank vir my geleen het nie.”

Die trane het weer in Jeannine se oë opgedam en sy het bewend haar selfoon opgetel en ’n liedjie van Dana Winner gespeel, terwyl sy haar gedagtes probeer agtermekaar kry.


Xavier Joshua is op 18 Julie gebore, hier is hy en sy mamma Jeannine Fourie net ure na sy geboorte.

Xavier is op 18 Julie gebore en Jeannine was opgewonde toe sy en haar seuntjie uiteindelik kon huis toe gaan.

“Alles het goed gegaan. Ek het Xavier Donderdagaand nog geborsvoed, maar Vrydagoggend wou hy niks weet nie. Vroeg Maandagoggend het ek hom hospitaal toe gevat en hy is nog steeds daar.”

Xavier se gewig het van 3.2kg na 2.5kg geval en dokters was baie bekommerd oor die feit dat hy gedehidreer het. Jeannine het weer probeer om hom te voer en Dinsdagoggend 26 Julie het hy die laaste keer gedrink, die keer uit ’n bottel uit. Hy het later ’n koors ontwikkel en na verskeie toetse het hulle uitgevind dat hy ’n virus in sy bloed het.


Xavier Joshua Fourie het 3.205kg by geboorte geweeg.

Jeannine het begin om haar gebede op Faceboek te plaas en so het mense regoor die wêreld in haar gebede en pleidooie vir Xavier se lewe ingeweef geraak.

’n Dag na hy in die hospitaal opgeneem is het Jeannine geskryf,

“Al my Facebook maatjies. Ek vra elkeen van julle om asseblief te help bid vir my engel seun Xavier Joshua. Hy is gister opgeneem in die hospitaal. Vandag het sy bloedtoetse gewys hy het nierverswakking. Hy het vanoggend opgehou asemhaal. Tans op masjiene en dokter het gesê ek moet maar reg maak want dit lyk nie goed nie. En eks jammer dit glo ek nie. My kind gaan hier deur kom hy gaan veg want hy is Jesus se soldaat. Hy gaan lewe. Help my bid.”

Op 29 Julie het die verlange na Xavier vir haar té veel geword,

“Jou kot is leeg jou kamer ruik na jou. Mamma speel nog steeds vir jou liedjies. Ek wag vir moreoggend om jou te sien. Dit vreet aan my om elke aand nag te sê maar jy is dan nie by die huis nie . Ek wens ek kon jou vashou. Ek hoor die ander babatjies huil dan verlang ek jou stemmetjie. Ek wens ek kon jou pyn vir jou wegvat ek wil jou ogies oop sien seun.”

Jeannine het vertel haar hart het in stukke geskeur toe daar weereens gepoog was om vir Xavier aarvoeding in te sit. Sy het genoem die klein operasie op 6 Augustus was onsuksesvol. Die weefsel in sy handjies en voetjies is al so seer en die aarvoeding wil nie meer hul werk doen nie.

Jeannine se vriendin, Carmen Smith het ’n brief aan Xavier geskryf. ’n Uittreksel daarvan ruk jou tot stilstand,

“…Ek promise jou, hier is so baie goete op die aarde wat jy sal like soos water. Dis iets deurskynend en even die ou mense kan nie genoeg in dit speel nie. Ons het ook iets wat ons noem diere. Meeste van hulle is pragtig, maar sommige is eintlik net lelik. Ons het gras, dis groen, en plante en blomme. Ek weet die hemel het mooi goed, maar hier is dit ook. Word wakker en kom kyk maar self, ek lieg nie vir jou nie. Ons wag…”

Jeannine gaan nie ophou bid nie en vra dat elkeen tog iewers in hul dag ’n paar minute sal afknyp en Xavier in gebed opdra.

“Ek is nie sterk nie, ek is net ’n mens maar ek het Jesus en ek kan bid …” het Jeannine afgesluit.

Op Xavier se Faceboek blad ‘Pray for Xavier’ is daar amper 2 000 mense, gaan kyk gerus daar hoe Xavier vorder en deel ook gebede vir Xavier en sy mamma op hierdie blad.
Me. Christelle Matthee woordvoerder van Life Cosmos Hospitaal het gesê Xavier se toestand is steeds kritiek.

LEES OOK:
Kom bid saam vir Xavier
15-jarige kry oordosis heroïne in: Twee wat help inspuit se borg geweier

Exit mobile version