Verwag enige tegniek vir kapings

“My voertuig is verniel en boonop alles lê ek omdat iemand anders wil steel en seermaak in die hospitaal,”

Die toename in kapings styg by die dag na menigte sake die afgelope week by die polisiestasie aangemeld is.
Die werklikheid van kapings is nie meer nuut vir enige inwoner van eMalahleni nie, maar daagliks verkry die booswigte nuwe idees om toe te sak op die volgende slagoffer.

Op 13 Julie het mnr. Bassy Nzungu in een van hierdie gevalle ingestap toe hy na ’n klas wat hy bygewoon het in sy voertuig wou klim.

“Ek het my kattebak oopgemaak om my handboeke daar te bêre toe ’n man wat ek gedink het bedel skielik afpyl op my. Ek het nog vir hom gesê ek het nie op die oomblik geld by my nie en dis toe hy ’n vuurwapen teen my druk,” het Bassy gesê.

Die rower het toe daarop aangedring om sy sleutels vir hom te gee en agter in sy eie voertuig te klim.

“Ek het vir ’n oomblik gedink ek moet terug veg maar het eerder net al die rower se bevele nagekom toe hy ’n harde fluit gee en drie ander mans op my voertuig toesak,” het hy vertel.

Die vier verdagtes het almal in Bassy se voertuig geklim en begin ry.

“Al wat ek kon doen is bid en wens dat hulle iewers stop dat ek uitklim maar dit het net erger geword. Die een verdagte het my met die vuis geslaan en gesê ek moet ophou rondkyk en my kop onder toe gedruk terwyl hy my kop bedek het met ’n stuk lap,” het Bassy met vrees vertel.

Volgens hom was die afdraai na die N4 snelweg die laaste wat hy kon sien.

“Ek was oortuig dat hulle my iewers diep in die veld sou vat en uitmoor toe hoor ek hoe die voertuig stop,” het hy gesê.

Die vier verdagtes het vir Bassy gedwing om uit die kar te klim en twee van die verdagtes het in ’n wit Volkswagen Golf geklim wat al klaar langs die pad gestaan het.

Hulle het toe op vlug geslaan en Bassy tussen niks en nêrens gelos.

“Ek was dankbaar want hulle het my gelos sonder om my verder seer te maak. Ek het begin loop en by ’n vulstasie aangekom waar ek my mense gebel het vir hulp,” het Bassy gesê.

Nog niemand is in verband met die kaping in hegtenis geneem nie.
In ’n ander voorval wat op Saterdag, 16 Julie by ’n bekende supermark gebeur het, het bietjie meer skade gelos as net ’n voertuig minder.

Die slagoffer wat wens om anoniem te bly weens die verdagtes nog vryloop het aan die WITBANK NUUS sy storie vertel.

“Ek het een van my vriende winkel toe geneem net so voor dit donker geword het. Terwyl ek gewag het vir hom het ek dit goed gedink om ’n sigaret te rook,” het hy gesê.

Volgens hom het daar ’n voertuig agter hom gestop en drie mans het uitgeklim.

“Die voertuig het steeds stilgestaan agter my, ewe skielik het een van die mans langs my venster gestaan en met ’n mes na my gewys en heel kalm gevra vir my karsleutel,” is vertel.

Die slagoffer is nie deur die gewapende verdagte op skrik gejaag nie en het geweier om sy sleutels oor te handig.

“Ek was nie bang vir die man met die mes nie maar ek het besef ek moet bang wees toe een van die ander verdagtes langs my in my voertuig klim met ’n vuurwapen gerig op my,” het hy verder gesê.

Hulle het dit reg gekry om die slagoffer uit die voertuig te kry en dit nie net daar gelos nie. Nog ’n verdagte het glo uit die voertuig geklim en op die angsbevange slagoffer begin skiet.

“Hy het my in my regterbeen geskiet en toe vlug die booswigte eers met my motor. Gelukkig het hulle nie my selfoon gevat nie en kon ek dadelik my vrou bel vir hulp,” is gesê.

Sy vrou het in kontak gekom met die SAPD en 15 minute later laat weet dat sy voertuig naby die afrit van Benoni op die N12 gevind is.

“My voertuig is verniel en boonop alles lê ek omdat iemand anders wil steel en seermaak in die hospitaal,” het die anonieme slagoffer ten slotte gesê.

LEES OOK:
Gelukkige einde na voertuig gesteel is

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version