CrimeNews

Een inbraak nie genoeg nie

Die afgelope tyd is een huis per keer nie meer genoeg vir rowers nie en teiken hulle twee of meer op ’n slag.

Die afgelope tyd is een huis per keer nie meer genoeg vir rowers nie en teiken hulle twee of meer op ’n slag.
Op Woensdag, 29 Junie het me. Nina Oosthuizen ’n oproep van haar sekuriteitsmaatskappy gekry dat haar huisalarm afgegaan het.

Na die oproep het sy ’n oproep van haar buurvrou ontvang waar sy haar in kennis gestel het dat daar by hul tuiste asook by Oosthuizen se huis ingebreek is.

Met ’n haas het Oosthuizen huis toe gejaag waar sy afgekom het op haar voordeur wat met krag oopgebreek is.

“Ek het so slegte gevoel in my gekry toe die sekuriteitsmaatskappy my gebel het die keer. Daar was geen manier dat my alarm net kon afgaan vanself nie,” het Oosthuizen gesê.

Op die toneel het sy haar buurvrou se bedkassielaai op haar grasperk gevind.

“Die sekuriteitsmaatskappy moes warm op die boewe se hakke gewees het, want hulle het nie eers kans gekry om in my kaste te grou vir waardevolle goed nie,” het sy ook bygelas.

Oosthuizen is van mening dat, as dit nie vir die sekuriteitsmaatskappy se vinnige optrede was nie, hulle rot en kaal besteel sou gewees het.

CV386rs
Die skade wat die diewe gelos het na twee inbrake wat langs mekaar plaasgevind het, minute na mekaar op Woensdag, 29 Junie.

“Ons is nêrens meer veilig nie en kan nie meer byhou met al die onkostes van die skade wat aangerig word nie,” het me. Minnet Vermaak gesê na hulle al driekeer in een maand die teikens van inbrake was wat in dieselfde area plaasgevind het as waar Oosthuizen bly.

In Vermaak se geval het die diewe elke keer gevlug met televisies en skootrekenaars.
In ’n ander voorval was mnr. Hannes Joubert ’n teiken van drie rowers wat toegang verkry het tot sy huis toe hy sy vroegoggend koffie op 30 Junie gemaak het.

“Ek het nog saam my bediende in die kombuis gestaan toe ek ’n geluid by my kuierarea van my huis hoor. Ek het na die skuifdeur gestap en is met ’n vuurwapen in my eie leefarea verras,” het Joubert gesê.

Die drie rowers het hom onmiddellik aangeraai om stil te bly en op die vloer te gaan lê, terwyl hul die huis deursoek het vir alles waardevol.

“Ek het hulle gevra of ek net my bediende in die kombuis kan gaan waarsku en stilhou voor sy alarm maak, waar hulle my dit darem toegelaat het,” het Joubert gesê.

Die rowers is weg met al Joubert se elektroniese toestelle. Niemand is gelukkig beseer nie.
Nog geen verdagtes is in hegtenis geneem nie en die saak word verder deur die polisie ondersoek.

“Ek weet dit kon erger gewees het en ons kon seergekry het, maar ek is kwaad. Wie gee hulle die reg om my besittings af te vat van my af in so manier, die syfers van inbrake klim daagliks en ons moet dit net aanvaar?” het Joubert ten slotte gesê.

LEES OOK:
Inbraak na toemaaktyd
Soveelste inbraak by besigheid

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button