Man (45) dood na mes-moord

’n 25-jarige vrou is gearresteer in verband met ’n gru-moord die afgelope naweek.

’n 25-jarige vrou is gearresteer in verband met ’n gru-moord die afgelope naweek.

Watermeyerstraat, wat gewoonlik rumoerig is met die bedryf van besighede was Vrydag 24 Junie, stil na die dood van mnr. Erick Hattingh (45), ’n inwoner in die straat.

Oor die huis hang ’n donker wolk en binne vertel die bloedspatsels ’n storie van ’n aand van waansin.

Wat presies daardie aand gebeur het, word daar baie oor gegis.

Huurders van ’n woonstel in Hattingh se erf vertel dat hulle gille uit die huis gehoor het, maar volgens hulle was dit niks nuut nie. Dit het glo talle kere vantevore ook gebeur.

Me. Thoriso Manamela het uit die kamer, wat haar vriend binne in die huis huur, gestorm na ’n histeriese gil van Hattingh.

“In die huis was daar  ’n bloedbad, oral was bloed, teen die mure vanaf die kombuis tot voordeur waar sy lyk gelê het. Ek het in angs die ambulans gebel nadat Hattingh se meisie vertel het dat hy homself  met ’n mes gesteek het.”

Volgens Manamela het sy gesukkel om die ambulans te kry en sy het ’n vriend gebel om haar te help soek na hulp.

Met die ambulans se aankoms, het hulle Hattingh dood verklaar.

Hattingh se susterskind, Melissa Johnston het gesê dat die vrou aan die familie vertel dat hy met sy kop teen die muur geval het.

“Tot my oom se dood het ons nie eers geweet van sy meisie nie, die meisie is eintlik aangestel as ’n hulp om na my ouma, me. Marlene van Tonder om te sien wat aan Alzheimer’s ly. Ons is eers na sy dood in kennis gestel dat hulle  in ’n verhouding was,” het Johnston vertel.

Na die toneel deur die polisie ondersoek is, was daar baie vrae waarvan een was, waar is die wapen en wat het gebeur?

Die polisie het die vrou na die moordtoneel geneem, waar sy na bewering aan polisie gesê het dat sy Hattingh uit selfverdediging met ’n mes gesteek het.

Sy het die mes glo agter in die erf gaan haal en aan die polisie oorhandig, waarna sy in hegtenis geneem is.

“By die nadoodse ondersoek is twee steekwonde op Hattingh se lyf gekry, een aan die linker voorkant van sy hart en die tweede een op sy linker agterblad. Dit blyk dat die man homself doodgebloei het,” het kapt. Eddie Hall, polisiewoordvoerder van Witbank Polisiestasie, gesê.

Die vrou het glo foto’s aan die polisie gewys oor hoe sy blykbaar by vorige geleenthede deur Hattingh mishandel is.

Die vrou het Maandag 27 Junie vlugtig in Witbank Landdroshof verskyn op ’n klagte van moord wat teen haar ondersoek word. Sy sal weer op 4 Julie in die hof verskyn.

Die familie het Hattingh as ’n private, komplekse en  intelligente man beskryf en het gesê dat hy baie lief was vir sy familie en hy wou altyd alles doen om hulle gelukkig te sien.

“Dit is wreed en hartseer wat aan my oom gedoen is en dat hy op so manier moes sterf.  Hy het nog so baie planne gehad, maar dis van hom weggeneem,” het Johnston gesê.

Hattingh se begrafnis vind Vrydag om 13:00 uit die N.G Kerk Witbank-Suid (Trappieskerk) plaas. Hy laat sy dogter, Chanel Hattingh, moeder, Marlene van Tonder, twee sussies, Lize Johnston en Yolanda du Plessis en broer, Wickus Hattingh agter.

Die vrou word anoniem gehou tot sy op die klag gepleit het.

 

Exit mobile version