CrimeNews

35-jarige in hegtenis na twee meisies soek raak

’n Tweede dwelm-skok het Ga-Nala in net bietjie meer as ’n maand getref.

’n Tweede dwelm-skok het Ga-Nala in net bietjie meer as ’n maand getref.

Dié keer is ’n 35-jarige man in hegtenis geneem nadat twee meisies weggeloop en later glo in ’n bedwelmde toestand teruggevind is.

Die twee meisies, onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, is Donderdag 19 Mei teruggevind nadat hulle die vorige dag verdwyn het.
Die twee meisies word anoniem gehou omdat hulle nog minderjarig is.

Volgens die een meisie se sussie, wat ook anoniem gehou word om die meisies se identiteit te beskerm, het haar sussie met hul ouers baklei en gesê sy wil nie meer by hulle bly nie.
Toe die ouer sussie gaan navraag doen by die skool waar die meisie skoolgaan het sy uitgevind haar sussie het nie skool toe gegaan nie.
Die tweede meisie bly in ’n kinderhuis in Ga-Nala.
Toe die kinderhuis se huismoeder agterkom sy is nie tuis nie, het sy dadelik alarm gemaak.

Ga-Nala se 911 lede het die hele dorp van hoek tot kant deursoek.
Volgens mnr. Edwin Nel van Ga-Nala 911 het hulle inligting ontvang dat die twee meisies in ’n ouer man se geselskap gesien is.

“Ons het hulle in ’n gedeelte van die dorp gekry en agtervolg. Die man en sy vriend het die meisies agter die ou lapa dam afgelaai en weer gery. Terwyl deel van ons span in samewerking met die polisie die twee meisies by die dam gaan haal het, het die ander span ook in samewerking met die polisie die twee mans in Springboklaan afgetrek.”

Dwelms is by die 35-jarige man gevind en hy is gearresteer vir besit van dwelms.
Die verdagte het Vrydag 20 Mei in Kriel Landdroshof verskyn en die saak is vir sewe dae uitgestel vir ’n formele borgaansoek.

Ses weke terug is twee mans ook in die Hoëveldse dorpie gearresteer nadat die 15-jarige Adriaan Keyser in die intensiewe-sorgeenheid van Witbank Hospitaal beland het na ’n oordosis heroïne.
Die twee verdagtes het Adriaan op 14 April by die huis gaan haal en glo gehelp om heroïne te spuit.
In ’n verklaring aan die polisie het die een verdagte gesê hulle was bewus daarvan dat Adriaan net 15 jaar oud is.

“Onder ons toesig en met ons hulp is hy gespuit met ’n oordosis heroïne,” het die verdagte geskryf.

Dié twee verdagtes verskyn weer op 23 Junie.

LEES OOK:
[OPVOLG] Adriaan kan niks onthou nie
The battle with drugs continue

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button