CrimeNews

Man dankbaar om te leef na aanval

’n 31-jarige man glimlag vandag, hy besef hy is gelukkig om nog te kan leef.

’n 31-jarige man glimlag vandag, hy besef hy is gelukkig om nog te kan leef.
Mnr. Douw Badenhorst is Vrydag 13 Mei geskiet. Gelukkig het die koeël regdeur sy linkerbeen gegaan.
Badenhorst was omstreeks 06:10 op pad werk toe en het net verby die ou hostel-gebou op sy kleinhoewe naby Kendal gery toe hy ’n oproep van een van sy werkers, Sam ontvang het.

“Toe Sam die eerste keer bel het ek die selfoon doodgedruk en hom probeer terugskakel. Ek maak altyd so om hom lugtyd te spaar, maar sy selfoon het beset gelui. Ek was net verby die hostel-geboue, wat ons nou as ’n skuur gebruik, toe Sam weer bel. Dié keer het ek geantwoord en Sam het histeries geskree: ‘Daar is drie van hulle by die buitekamers!”

Badenhorst het gesê hy het gestop, uit die bakkie gespring en na die gebou gehardloop toe hy twee mans sien weghardloop.

Hy het agter hulle aangehardloop.

“In die hardloop het ek iets agter my gehoor en toe ek omdraai kyk ek in ’n derde man se gesig vas.”

Volgens Badenhorst het die man geen emosie getoon nie, niks gesê nie net ’n vuurwapen opgelig en op hom begin skiet.

“Ek het nie besef ek is raakgeskiet nie. Dit het gevoel asof ek in ’n gat trap en my been onder my meegee. Ek weet nie hoekom nie, ek is regshandig, maar ek het my pistool on my linkerhand gehad. Met die val het ek dit reggekry om myself te draai en terug te skiet. Was dit nie vir dit nie is ek seker die man sou my koelbloedig doodskiet. Hy het al die tyd in die wêreld gehad.”

ze200 deep edge plse
Mnr. Douw Badenhorst is op 13 Mei tydens ’n aanval gewond.

Net ’n entjie verder was Badenhorst se vrou, Corrie, besig om reg te maak om Balmoral toe te ry waar sy skoolgee.

“Ek ken die klank van Douw se vuurwapen en ek het besef iemand is besig om op hom te skiet,” het sy gesê.

Haar eerste gedagte was om hul twee seuns Dirkie (3) en Hendrik (2) veilig te hou.

“My twee seuns se veiligheid was my eerste prioriteit. Ek het net gereageer, buite was iemand besig om my man aan te val, sekondes het soos ure gevoel.”

Die verdagte wat geskiet het, het met Badenhorst se bakkie gevlug.

“Ek het huistoe gehardloop om seker te maak my vrou en kinders is veilig en toe die bure gebel om op die uitkyk te wees vir die bakkie. Corrie het met my hospitaal toe gejaag, daar was ek dadelik opgeneem en het tyd gehad om oor die gebeure te reflekteer. Vandag sê ek dankie, die Here het Sy beskermde hande oor my en my gesin gehou.”

Die bakkie se opsporingstelsel het gewys die bakkie is in Bronkhorstspruit.
Ogies Polisie ondersoek die saak.

LEES OOK:
Met mes gedreig toe skiet hy
Skietery op snelweg vir aartappel-geld

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button