CrimeNews

Springkastele deur ‘kliënt’ weggedra

“Ek lê in die aande wakker en dink wat ek kan doen, dit vreet my op want dit is nie die eerste keer nie,”

“Ek lê in die aande wakker en dink wat ek kan doen, dit vreet my op want dit is nie die eerste keer nie,” het ’n moedelose me. Emmie Brits gesê

Op Vrydag, 1 April het ’n ‘kliënt’ haar gebel om springkastele by haar te huur.

“Dit was ’n 5x5m springkasteel, ’n avontuur eiland en ook ’n spring- en glykasteel. Nie net is die ‘kliënt’ weg met hierdie drie kastele nie, maar ook ’n tent van 5x10m en 40 stoele. Dit is ongelooflik baie skade wat ek weereens dra,” het sy verder bygevoeg.

Brits het al die nodige dokumentasie gehad om te verseker dat hierdie ‘kliënt’ nie sou verdwyn met haar eiendom nie.

Mc513-1rs
’n Foto van die een verdagtes wat deur die sekuriteitskamera vasgevang is tydens sy besoek aan die besigheid op Vrydag, 1 April.

“Identiteitsdokumente, bewys van polisse op sy naam, ’n e-pos van sy kastige e-pos by die werk. Hy het my op Vrydag, 1 April geskakel en gevra vir die kastele en ander goed. Hy het gesê dat dit vir ’n funksie was vir daardie naweek en hy het die goed dringend nodig. Hy het dit Saterdag kom optel en het my belowe die geld is inbetaal. Hy het selfs die bewys van betaling vir my gebring, maar min het ek geweet dat dit, saam die res van die dokumentasie, vervals is. Aangesien hy by ’n ander bank as ek bank, het ek geweet die geld sou eers ’n rukkie vat om in my rekening te wys, en omdat ek die bewys van betaling gehad het, het ek aangeneem die geld is inbetaal. Teen Sondag was daar steeds niks en ek het onraad begin vermoed. Ek het hom gebel en het my belowe hy bring my goed Sondag terug, aangesien dit moes gewas word voor dit weer verhuur word. Sondag was sy verskoning dat sy drywer dronk was, en Maandag het hy gesê dat sy die drywer in Johannesburg is,” het sy haar storie verder vertel.

Sy het ook gesê dat sy begin moedeloos word het, maar diep binne steeds geglo het dat die ‘kliënt’ haar goed sal terugbring.

“Ek het hom Dinsdag weer gebel, ek was sommer so vroeg soos 07:00 op sy spoor en hy het gesê hy gaan net gou uitvind en terugkom na my toe. Natuurlik het ek nie ’n oproep van hom ontvang nie en toe ek hom weer bel, het hy vir my in soveel woorde en baie meer kru-taal gesê, dat ek mal is en hy het nooit enigiets by my gehuur nie. Dit is waar die besef deurgedring het, dat my goed weg is. Steeds wou ek dit nie glo nie, en ek het aangehou bid en glo dat ’n wonderwerk sal gebeur. Ek het hom aangehou bel en hy het tydens die een oproep vir my gesê dat hulle wat swart mense is, arm is en hulle mag van die wittes steel, aangesien ons baie geld het,” het Brits bygelas.

Mc513-2rs
Die trokkie waarop Emmie Brits se springkastele, stoele en tent gelaai is, op Saterdag, 2 April.

Sy het gesê dat hulle steeds die telefoon optel wanneer sy bel, aangesien sy van ’n privaat nommer skakel, maar kom elke keer met ander stories.

“Hulle het gesê hulle werk vir ’n maatskappy in Middelburg. Die maatskappy bestaan nie, maar wel die straat. Dit het selfs op die een e-pos gewys dat die e-pos daarvandaan gestuur is, maar die ander e-pos met bewys van betaling is vanaf ’n internet kafee gestuur in Arrasstraat. Nadat ek terug gegaan het en na die beeldmateriaal gaan kyk het wat ons sekuriteitskameras vasgevang het, kan mens sy gesig baie duidelik sien die Vrydag terwyl hulle daar was. Hulle was met ’n wit BMW daar, met slegs ’n nommerplaat in die agtervenster van die voertuig. Die Saterdag het hulle egter die kameras vermy en ek het ook op die beeldmateriaal gesien dat daar heel toevallig ’n polisievoertuig verbygery het, en die een man het agter die muur gaan staan tot die voertuig verby is,” het Brits ook gesê.

Sy het bygevoeg dat sy al vantevore so besteel was, en het sedertdien opgeskerp met haar sekuriteit. Sy het ook gesê dat sy nou meer dokumentasie verlang indien springkastele by haar gehuur word, maar tot haar skok het sy besef dat al hierdie dokumentasie ook vervals word.

“Ek het werklik gedink dit sal nie weer gebeur nie, aangesien ek so streng is. Ek dink wat ook vir my die ergste is, is dat ek hulle gehelp het om my goed op hulle trokkie te laai. As dit een van my werkers was, was dit miskien ’n ander storie, maar ek het hulle gehelp. Dit spook tot vandag toe by my. Ek wou vir lank met niemand praat nie en wou vir lank niks daaroor sê nie, maar ek het net weer my kop opgetel en ek gaan aan,” het Brits ten slotte gesê.

Die sakke van die springkastele is gemerk met die besigheid se naam op, en so ook die stoele. Die besigheid se telefoonnommer is ook op die stoele.

LEES OOK:
Seun se oorskot gesteel
Kruideniersware gesteel uit kattebak

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button