Mes-aanval in nagklub

Terwyl mense hulself gate uit geniet op die dansvloer het ’n vuisgeveg by die kroeg-area van die klub plesierigheid tot stilstand gebring.

Terwyl mense hulself gate uit geniet op die dansvloer het ’n vuisgeveg by die kroeg-area van die klub plesierigheid tot stilstand gebring.

Twee mans het handgemeen geraak en mekaar getakel en kort voor lank het nog hande bygekom.
Dié gebeure het vroeg Saterdagoggend, 2 April, by ’n gewilde kuierplek gebeur.

“Ek was net van plan om die laaste rondte aan te kondig, aangesien ons om 02:00 ons deure sluit, toe die geveg uitgebreek het. Omstreeks 01:30 het die twee ouens mekaar gegryp. Ek het by die kiosk gestaan en het dadelik gehardloop om die geveg stop te sit. Dit het in ’n kwessie van ’n paar sekondes gebeur. Die sekuriteit was ook binne ’n paar sekondes daar. Ek het een van die mans hom na die kiosk-area getrek waar mense, vermoedelik familielede, hom tot bedaring probeer bring het. Ek het na die tweede geveg toe gehardloop wat intussen uitgebreek het,” het die bestuurder van die nagklub vertel.

Hy het ook bygevoeg dat hy die tweede geveg ook wou stopsit toe die een man wat die eerste geveg begin het, weer losgebreek het en op die slagoffer afgestorm het.

“Daarna het ek hom oor een van die lae muurtjies by die dansvloer getrek en hy het losgekom en die slagoffer gesteek met ’n mes, aan die agterkant van sy been. Daar was net bloed en die sekuriteit het toe die ou wat moeilikheid gemaak het, daar uitgehelp. Hy het gesê dat hy self kan loop en hy en ’n vrou is toe daar uit,” was sy verdere woorde.

Intussen, terwyl die bestuurder sy hande volg gehad het om die gevegte stop te sit, is ’n ander man bewusteloos gelaat.

“Ek het net ’n vuishou verby my kop voel kom, toe is die ou voor my op die vloer. Iemand het hom in die gesig geslaan, en daarna het mense sy kop geslaan en geskop. Hoekom weet ek nie,” het hy ook bygesê.

“Met die messteek het ek iets in die ou se hand gesien, maar kon nie uitmaak wat dit was nie. Eers te laat het ek gesien dat dit ’n klein messie was wat in ’n sakkie was. Ek het oorspronklik gedink dit is ’n aansteker in die sakkie,” was die bestuurder se woorde.

“Almal is vinnig om klippe na ons te gooi, maar ons het 32 kameras in die plek en het die hele geveg op video. Ons kan nie mense beheer nie, en as iemand regtig ’n mes wil inbring, dan sal hulle,” het hy ook gesê. “Daar is ook ’n hoë definisie kamera wat alles in kleur opvang.”
“Die kameras is in die dak, dit kan nie geskuif word nie. Dit vang ’n sekere radius op en sodoende kan mens alles sien wat hier aangaan. Dit was net heel toevallig dat die DJ die groot kamera wat gewoontlik op die dansbaan wys, op daardie oomblik by die kroeg gehad het waar die geveg uitgebreek het. Die groot kamera wys alles op die groot skerm wat ons op die verhoog het,” het hy ook gesê.

Tydens die geveg het baie mense betrokke geraak. Een van hulle was ’n onskuldige slagoffer wat wou help. Sy uiteinde was ’n plaat in sy wangbeen en vyf skroewe in sy mond. Sy agterste oogkas is ook beskadig en moes met membrane geheg word. Sy sinuskanale moes ook herstel word.

“Ons het by ’n tafel gesit en langs ons was ’n tafel oop. Ek dans nie graag nie, so ek sit maar meestal en kyk wat maak die mense. Ons was die eerste keer uit in maande, en my man het die bakleiery gesien gebeur. Hy het gegaan om te gaan help, maar was toe in die vuisslanery ingetrek. Iemand het hom van die kant af geslaan en hy het geval. Daarna, het hulle hom aanhoudend geslaan en sy kop geskop. Daar was bloed orals en ek het gedink my man is dood,” het sy vrou vertel.

Sy het ook gesê dat hy aan sy hemp gesleep is na die hoek toe, en dit is waar hy aangerand is. Ook het sy gesê dat sy tussenin was om te kyk of sy nie kan help nie.

“Hy het net daar gelê en ons het hom hospitaal toe gevat. Met ons aankoms by Life Kosmos Hospitaal, het my swaer gesê dat ons moet terugklim in die kar, aangesien die klomp hul verskyning gemaak het. Ons het dadelik in die kar geklim en na eMalahleni Private Hospital gegaan. Eers daar het hy bygekom, na hulle vir hom’n inspuiting gegee het. Hy kan glad nie veel onthou nie, aangesien hy vir ’n hele ruk bewusteloos was,” het sy vrou gesê. “Daar was geen moeilikheid die hele aand nie. Ek kan aflui dat dit oor ’n meisie gegaan het, maar niks kan bewys word nie.”

Die bestuur van die nagklub doen alles in hul vermoë om die slagoffer se ouers te help met inligting en het ook sonder huiwering die beeldmateriaal aan hulle verskaf.

’n Saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer is oopgemaak en dit word tans deur die Witbank Polisie ondersoek.

*Die video van die voorval sal opgelaai word sodra die polisie dit vrygestel het aan ons.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version