Water maak ’n verskil

Met haar ingebore liefde vir die Vrystaat, help sy baie se dors les.

Met haar ingebore liefde vir die Vrystaat, help sy baie se dors les.
Op Sondag, 28 Februarie het Caroline van Saasen saam haar skakels in eMalahleni, An-Li en Donawin Willemse, ongeveer 22800L water gelaai. Dit is oor ’n tydperk van 10 dae ingesamel.

“Ek het nooit gedink dit sal so ver gaan nie, ek het oorspronklik net ’n bladsy op Facebook begin en die mense is net ongelooflik. WSSA (Water Shortage South Africa) is onder my leiding gebore en ons word net groter. Die nood daar buite is skrikwekkend,” het Caroline vertel.

Gebore in Kroonstad, lê haar hart in die Vrystaat, maar sy bly tans in Middelburg.

“Mense se harte sit op die regte plek. Ek sou nooit kon droom dat ons so ver sou kom nie, maar hier is ons vandag, nege weke later en almal is net so goed vir ons. Die ergste is om te sien hoe broodnodig hierdie water in sekere gebiede is. Ons verskaf eers water aan ouetehuise, hospitale, skole en kleuterskole. Dan gee ons vir die res van die gemeenskap. Hoe sê jy vir ’n kind dat hy of sy net ’n halwe glasie water mag kry vir die dag?,” het sy beklemtoon.


Caroline van Saasen, stigter van WSSA (Water Shortage South Africa), het op Sondag, 28 Februarie in eMalahleni kom kuier.

Sy het genoem dat baie faktore ’n rol speel as daar nie water is nie. Persoonlike higiëne is beslis een wat sterk daaronder ly. En om iemand se water tot so mate te beperk, is in haar oë net nie regverdig nie.

“Wat nog merkwaardig is, is die leë bottels wat ons terug kry van die verbruikers af. Dit word dan weer vol gemaak en so herwin ons ook sommer in dieselfde proses. Maar soos elke ander plek, het ons ook ons uitdagings. Op hierdie stadium, is die grootste hiervan, vervoer. Ons het net eenvoudig nie genoeg vervoer om al die water by die nodige gebiede te kry nie,” het Caroline bekommerd gesê.

Sy het ook gesê dat hulle vyf miljoen liter water ’n dag kan kry, maar weens die tekort aan vervoer, kan hierdie water nie vervoer word nie. Sy het bygevoeg dat al die vervoer en kostes tot dusver aan hulle geskenk is. Regoor die land is daar skakels wat water insamel, mense wat vrywilliglik hulle plekke opoffer as stoorgebiede vir water.


Hier is (van links): Donawin Willemse, Caroline van Saasen (WSSA), An-Li, Cole en Jesse Willemse.

“Voor ons die water begin versprei, bevestig ons eers die nood in die dorp. Ons bel gewoonlik die polisiestasies of hospitale en dan stuur ons trokke met water,” het sy verder vertel.

Sondag se water is na Hoedspruit vervoer. Namens Caroline en An-Li en die span van WSSA, wil hulle net elkeen bedank wat pligsgetrou gaan help om die water elke keer te laai.

“Ons wag nou net vir nog ’n trok, dan gaan ons die res van die water laai wat nog oor is,” het An-Li Maandag gesê.

“Dankie klink so leeg, maar dis al wat ek kan gee. Baie dankie vir elkeen se bydrae en skenkings tot dusver. Sonder die gemeenskappe, sou niks moontlik gewees het nie. Julle maak die verskil. So uit my hart uit, wil ek net aan elke inwoner van eMalahleni baie dankie sê vir elke liter water wat julle skenk. Ons waardeer dit uit ons harte uit, en die mense wie dit nodig het, waardeer dit soveel meer,” het Caroline ten slotte gesê.

LEES OOK:

Mense staan die dorre Vrystaat by

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version